Ashlon Davids (26), ’n veelsydige agterspeler, is een van die nuwelinge by die Poubloues. Dié boorling van Malmesbury wil homself in die nr. 10-trui vestig.
Van die ander nuwe gesigte is die senters, Berton Klaasen en Harlon Klaasen, wat nog verlede seisoen vir die Southern Kings in die Pro14-reeks gespeel het.
Nog ’n nuwe speler is “Aussie”, James Verity-Amm (25), veelsydige agterspeler van Kroonstad wat vir Western Force in Australië gespeel het.So ook die voorspeler Andrew Beerwinkel, wat die afgelope twee seisoene vir die Pumas gespeel het, wat gemaklik op vaskop- en loskopstut sak.
Die stut John-Roy Jenkinson gaan hom ook in Kimberley vestig en ook slot Mzwanele Zito wat tot 2017 ’n Poubloue was voordat hy vir Carcassonne in Frankryk gespeel het.
Die Poubloues se voorseisoen het begin en hulle sal tot 13 Desember oefen, waarna hulle in die nuwe jaar weer sal saamtrek.