Beroepslangasems het Saterdag (12/07) weer hul drafskoene aangetrek en vir geld gehardloop danksy die Nedbank-hardloopklub se nuwe virtuele padreeks, #NedbankRunified.

Dié reeks, wat in samewerking met Strava gehou word, is beskikbaar vir atlete in Suid-Afrika, Lesotho, Zimbabwe, Namibië, Mosambiek en eSwatini, met elite-deelnemers wat geldpryse tydens die Covid-19-pandemie kan verdien.

“Die virtuele reeks is ’n manier hoe ons kan help dat ons hardlopers kop bo water kan hou in hierdie tye. Dit sal hulle ook die kans bied om fiks te bly,” sê Nick Bester, voormalige Comrades-kampioen en voorsitter van die Nedbank-hardloopklub.

Lede van die Nedbank-hardloopklub wat onder die voorste tien tel in hul onderskeie afdelings, sal geldpryse wen, terwyl lede van die publiek ook hul deel van R50 000 in Nedbank se Greenbacks en geskenkpakke kan wen deur die uitdagings te voltooi.

Die algehele wenner van die reeks sal ’n reis wen om aan ’n internasionale marathon deel te neem.

Volgens Tobie Badenhorst, hoof van borgskappe vir Nedbank, het meer as 35 000 deelnemers hulle reeds vir die reeks ingeskryf. Die reeks is oop vir die publiek van 11 Julie tot 24 Oktober en is op die Strava app, wat werk op enige toestel wat GPS-navigasie het.

– Wim Pretorius

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article