“Die land word deur misdadigers beleër; misdaad ondermyn onder meer die ekonomie en hou volhoubare ekonomiese herstel terug. Mense is moeg vir misdaad,” sê pres. Cyril Ramaphosa.
Ramaphosa was op Donderdag 14 Desember die gasspreker tydens die uitpasseringsparade van 1 474 nuwe polisiekonstabels in Kimberley.
Dié kleurryke geleentheid wat deur honderde familielede en belangstellendes bygewoon is, het by die polisie-opleidingsvleuel op die terrein van 3 Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon (3 SAI) buite Roodepan plaasgevind.
Ramaphosa sê die nuwe konstabels is gewerf as deel van die geveg teen misdaad. Hulle gaan onmiddellik oor die land heen aangewend word, sê hy. Hy het dié jeugdiges, waarvan die oudstes 31 jaar oud is, gemaan om te onthou dat ’n polisielid die eerste een is met wie ’n slagoffer van misdaad kontak het en dat dissipline, toewyding, waardigheid en respek altyd deel van ’n polisielid se optrede moet wees.
Dié nuwe konstabels is deel van die 10 000 wat vanjaar oor die land heen gewerf is om polisie-opleiding te ontvang.
Hulle word by onder meer polisiekantore en eenhede ingedeel, en sal bydra om ’n hoë polisiesigbaarheid in die vakansietyd te handhaaf.


