Afrika is nie meer polio-vry nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het op 18 Mei dié aankondiging gemaak.
Dit volg ná die bevinding dat ’n kind in die noord-ooste van Mosambiek met die wilde poliovirus tipe 1 besmet is en verlamming begin ervaar het.
In Februarie is ’n soortgelyke geval in Malawi aangemeld.
Polio tas die senuweestelsel aan en kan binne ure onomkeerbare verlamming veroorsaak. Hoewel geen genesing bestaan nie, kan dit deur die toediening van polio-entstofdruppels voorkom word.
Polio tas hoofsaaklik kinders vyf jaar en jonger aan.
Aangesien dit baie aansteeklik is, hou polio ’n wêreldwye bedreiging in.
Die polio-gevalle in Mosambiek en Malawi word volgens genoomkartering verbind met dieselfde variant wat sedert 2019 in Pakistan in omloop is.
“Die opsporing van nog ’n geval van wilde poliovirus tipe 1 in Afrika is uiters kommerwekkend,” sê dr. Matshidiso Moeti, die WGO se streeksdirekteur vir Afrika.
“Dit wys hoe gevaarlik die virus is en hoe vinnig dit versprei.”
Volgens Moeti ondersteun die WGO regerings in Suider-Afrika om die stryd teen polio te versterk en te verseker dat grootskaalse entstofveldtogte teen die virus en sy uiters skadelike invloed op kinders uitgevoer word.
“Geen kind moet weens die weerhouding van entstof aan ’n voorkombare siekte blootgestel word nie,” het polio-oorwinnaar, Dorothy-Anne Howitson van Kimberley, in 2020 op Wêreldpoliodag aan NoordkaapBulletin gesê.
“Maak seker dat elke kind sy of haar polio-entstof kry, want die pyn en gestremdheid is daar vir die res van die mens se lewe.”


