Benewens ’n nuwe aansig vir die Elizabeth Conradie-skool (Elcon) sedert uitgebreide opknappingswerk verlede jaar, het die skool vanjaar vier nuwe personeellede verwelkom.
Carienie Scholtz, nuwe adjunkhoof, sê: “Die winde van verandering deur ons skool is ’n vars briesie wat meer leiers gebring het.”
Sy glo die personeellede, wat elkeen unieke sjarme en kundigheid bring, gaan die skool se skip na nuwe horisonne help stuur. Scholtz, by die hoërskoolafdeling, sê sukses is die som van klein pogings wat elke dag herhaal word.
“Ons kan ’n bestendige stroom inspirasie en leierskap verwag wat op die klein oorwinnings voortbou.”
Maritza Janse van Rensburg is die nuwe departementele hoof vir die grondslagfase.
“Sy is bekend vir meelewing en hoe sy met haar leerlinge omgaan, en is ’n baken van deernis en toewyding. Sy beoog om die grondslagfase glad te laat verloop, ondersteun deur haar passievolle span,” sê Scholtz.
In die beroepstroom neem Shaheda Kleinsmith die leisels as departementele hoof.
“Haar vars perspektief en grenslose dryfkrag beloof om leerlinge toe te rus met praktiese vaardighede wat hulle ver buite die skoolhekke sal dien. Dié department is gereed vir ’n reis van groei en prestasie,” sê Scholtz.
Alta Lamprecht is waarnemende departementele hoof vir tale in die hoërskool. Sy het ’n kalm houding en onwrikbare toewyding aan haar vakgebied.
“Ons glo haar bestendigheid sal ’n harmonieuse leeromgewing vir leerlinge bevorder.”


