Nuwe Kimberleyse burgemeester, speaker ‘onwettig’ verkies op nog ’n chaotiese raadsvergadering

Dipuo Peters op haar stoel as speaker, met Martha Bartlett, nuwe burgemeester, en Thapelo Matlala, stadsbestuurder.

Foto: Charné Kemp

Opposisiepartye oorweeg regstappe ná nog ’n chaotiese spesiale raadsvergadering op 5 Desember by die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley, waarop die ANC gesorg het dat Dipuo Peters en Martha Bartlett tot sy nuwe burgemeester en speaker verkies is.

Die opposisiepartye bestempel hul verkiesing as onwettig omdat die twee vroue nie vooraf as raadslede in die jongste raadsvergadering beëdig is nie. Die twee het ook van die begin af in die raadsvergadering gesit, waaroor die opposisie ontstoke was, en aan ’n stemming deelgeneem, wat opposisielede nog warmer onder die kraag gehad het.

Die betrokke raadsvergadering het die vorige een van 29 November, wat nie gekonstrueer was nie, vervang en alle sake op die sakelys moes van voor af afgehandel word.

Dit spruit uit die ANC se aankondiging dat hy sy speaker en burgemeester met meer ervare kaders wil vervang. Die plan was dat ET Matika en PM Mouers, ANC-raadslede, bedank en Dipou Peters en Martha Bartlett in hul plek as nuwe raadslede beëdig word. Intussen het Nomazizi Shwababa as speaker, en Kagisho Sonyoni as uitvoerende burgemeester, bedank. Hulle sou onderskeidelik deur Peters en Bartlett vervang word.

Vorige raadsvergadering was ongeldig
Stadsbestuurder Thapelo Matlala, wat die vergadering gelei het, het in die jongste raadsvergadering erken die vorige was ongeldig. Op die vorige vergadering is Peters en Bartlett beëdig, maar Matlala het geweier dat hulle weer op die nuwe vergadering beëdig word.

Die EFF het aangedring dat die vakatures eers verklaar moet word ná die bedanking van die ANC-raadslede. Elize Niemann van die DA het geëis om die Verkiesingskommissie (OVK) se bevestigingsbrief te besigtig.

Hierop het Matlala gesê hy het die OVK se brief, wat voldoende is, en die vergadering moet voortgaan.

Matlala het al sy dae gehad toe hy “spesiale gaste” op die galery, soos dr. Zamani Saul, provinsiale ANC-voorsitter; Deshi Ngxanga, provinsiale sekretaris; Maruping Lekwene, adjunk- provinsiale sekretaris; en Mangaliso Matika, ANC streekvoorsitter, verwelkom het. Opposisielede het hieroor gal afgegaan. Van die EFF-raadslede het terstond ook hul eie ampsgenote verwelkom.

Dr. Zamani Saul, ANC provinsiale voorsitter, en Deshi Ngxanga, provinsiale sekretaris in die galery van die raadsaal.

Een van die kwessies was dat opposisiepartye Matlala as voorsitter met ’n nuwe waarnemende speaker wou vervang om die burgemeester te verkies. Martin White, ANC-sweep en hoofsweep, het voorgestel dat hulle ’n waarnemende speaker aanwys. Hande is opgesteek, ook deur Peters en Bartlett, om vir Santa Johnson van Good te stem.

Die DA, EFF en ander opposisielede het protes aangeteken omdat Bartlett en Peters gestem het terwyl hulle nog nie beëdig is nie.

Matlala het ’n kort pouse toegestaan, wat in meer as ’n uurlange onderbreking ontaard het omdat amptenare van die departement van samewerkende regering ingeroep is om leiding oor statutêre vereistes te gee.

Daarna is die raad byeengeroep, waarop White gesê het Matlala het die mag om die vergadering te lei ingevolge art. 36 van die Wet op Munisipale Strukture.

Opposisiepartye het beswaar gemaak en ook aangedring dat Peters en Bartlett beëdig word.

Dit is geweier, waarna Matlala die EFF wou laat verwyder. Al die opposisiepartye het uitgeloop. Die vergadering met net die ANC en Good teenwoordig is voortgesit, waarna Peters tot speaker en Bartlett tot burgemeester verkies is.

Die ANC-lede in die galery en raadsaal het ná die verdaging luidkeels gesing.

Buite die burgersentrum was twee polisievoertuie met lede van die openbare-orde-eenheid sedert vroegoggend parkeer.

Ná die raadsvergadering is van links die opposisieraadslede Johann Loff van die PA, Pontcho Mocwana van die EFF, Roddy Loff van die ACDP, Dennis Pienaar van die Sol Plaatje Service Delivery Forum, en Chris Phiri van die DA. wie sê hulle oorweeg regstappe weens die onprosedurele aard van die vergadering.

Opposisieraadslede soos Chris Phiri van die DA, Dennis Pienaar van die Sol Plaatje Service Delivery Forum, Pontcho Mocwana van die EFF, Johann Loff van die PA, en Roddy Loff van die ACDP het agterna gesê hulle oorweeg regstappe weens die onprosessuele aard van die vergadering. Peters en Bartlett kan nie as speaker en burgemeester dien as hulle nie beëdig is nie.

Matlala kan ook net as voorsitter waarneem wanneer ’n nuwe raad ná ’n verkiesing die eerste keer sit. Daar is ander artikels in die wetgewing wat die raad die mag gee om ’n waarnemende speaker aan te wys.

Hulle meen Matlala was senuweeagtig en het gestotter omdat hy onder druk was om as voorsitter op te tree omdat die ANC bang is ’n waarnemende speaker kon hul planne in die wiele ry. Hulle meen dit was nie om dowe neute dat dr. Zamani Saul, ANC provinsiale leier, en sy gesante in die galery gesit en hul oë op Matlala gerus het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article