Die jaar 2022 het aangebreek.
Die meeste mense was bly om van 2021 afskeid te neem.
Hoewel 2020 wyd as ’n reuse-uitdaging beskou is, was 2021 in baie gevalle nie veel beter nie.
Tog is daar altyd hoop. En op hoop kan jy ’n ver en moeilike pad aandurf.
’n Mens wens soms ’n nuwe jaar kon soos ’n resepteboek op ’n winkelrak wees. Jy tel die resepteboek op en blaai daardeur. Loer na die prentjies. Kyk vinnig na watter bestanddele vir die resepte nodig is. Kyk hoe duur die bestanddele is en of dit maklik verkrygbaar is.
Dan staan jy ’n oomblik met die resepteboek in jou hand en weifel.
Jy sit dit in jou mandjie.
Of jy sit dit terug op die rak.
Veronderstel ons sou vinnig deur 2022 kon blaai.
Sou ons dit in ons mandjie sit?
Of sou ons dit eerder op die rak terugsit?
Ons weet nie wat op ons wag nie.
Dié jaar is nog ’n toe boek. Een van daardie boeke sonder titel wat net ’n effekleurige buiteblad het.
Dit moet eers oopgemaak word om te sien wat binne-in is.
Ek wens ek kon almal feëverhale toewens. Ongelukkig is dit nie hoe die lewe werk nie. Almal van ons gaan goeie en slegte hoofstukke beleef.
Mag ons wel aan die einde van die jaar bly wees hierdie boek het in ons mandjie beland.

