As “een van die kinders wat skool geniet het,” glo die nuwe skoolhoof van die Laerskool Eureka in Kimberley dat erkenning aan ’n kind belangriker as ’n eerbewys is.

Dr. Etienne Venter, wat in Desember as hoof by Eureka aangestel is, is ook van mening dat ’n laerskoolkind soos ’n spons is omdat hy of sy nog besig is om hul eie identiteit te vorm. Dit is een van die grootste uitdagings om as ’n onderwyser voor ’n klas vol kinders met uiteenlopende persoonlikhede te staan, sê hy.

Venter beskryf onderwys as die wydste beroep op aarde omdat ’n onderwyser onder meer noodhulpwerker, sielkundige, regter, ouer, professionele afrigter, arbeidsterapeut en bemarker moet wees.

Venter en sy vrou, Annalize, het ná jare in die Gauteng-omgewing, waar hulle deel van die “rotresies” was, sy aanstelling in die landelike Noord-Kaap verwelkom. Hy het immers ’n groot deel van sy kinderjare by die Leeuwkop-gevangenisterrein – “waar my pa die sleutels gedra het” – deurgebring. Dié terrein in die Midrand-omgewing tussen Johannesburg en Pretoria was toe nog ’n plattelandse omgewing.

Met hul dogter Liné uit die nes, en met haar onderwysstudie voltooi, was dit ’n ideale tyd vir ’n ander horison.

Venter was tot Desember die hoof by Laerskool Unika in Randburg.

Dat kinders nie meer kind kan wees nie, is volgens Venter die grootste uitdaging wat hedendaagse laerskoolkinders beleef.

Sy raad aan hulle is om kind te wees; om nie so mededingend te wees nie. In sy bykans 30 jaar in die beroepsveld sien hy dat kinders toenemend uitgeput raak; met vol naskoolse programme en aktiwiteite wat bots.

Venter het in 2014 tot 2016 sy verhandeling vir sy doktorsgraad oor leerling-leierskap­ontwikkeling in openbare laerskole gedoen.

“Doen eers ontwikkeling voordat jy leiers identifiseer,” sê hy en vertel dat leierskapontwikkeling ’n gebalanseerde wetenskaplike proses behoort te wees wat alle skole op dieselfde manier doen.

So byvoorbeeld moet ’n kind wat in ’n jeugsorgsentrum bly dieselfde geleenthede vir leierskapontwikkeling as ’n bevoorregte kind kry.

Tans is daar nie ’n gebalanseerde en eenvormige proses vir leierskapontwikkeling nie. Elke skool gebruik sy eie kriteria vir die identifisering van leiers, wat in talle gevalle ongebalanseerd is, sê hy.

Enkele ander hedendaagse uitdagings in die onderwysberoep is sosiale media, beurtkrag en dissipline.

Vandag se kinders is digitale gebruikers, daarvan kan ons nie wegkom nie, sê Venter. Maar indien balans nie hiermee behou word nie, leer kinders: As ek nie daarvan hou nie, “swipe” ek dit weg. Kinders moet ook leer om nie opmerkings op die sosiale media te maak wat nie van aangesig tot aangesig gemaak sou word nie.

Beurtkrag is van die grootste eksterne uitdagings, sê hy. Boonop veroorsaak beurtkrag, net soos die Covid-19-pandemie, dat die gaping tussen effektiewe en sukkelende skole al hoe groter word.

By alle skole kan dissipline om reëls te gehoorsaam ook ’n uitdaging wees. Dit sluit die ongeveer 5% kinders én ouers in wat nie skoolreëls respekteer nie – van die navolging van kleredragreëls en om by skoolure te hou, tot gedrag by byeenkomste. Wanneer reëls telkens nie gevolg word nie, leer kinders nie om aan te pas nie.

In ’n skool, waar kinders van honderde gesinne – elk met eie reëls – onder een koepel is, is die navolging van skoolreëls uiters belangrik.

Hoewel die Venters nog nie veel van Kimberley en die Noord-Kaap gesien het nie, sien hulle uit na verkenningstogte, veral omdat hulle in hul 26 jaar van getroude lewe nie veel saam vakansie kon hou nie.

Annalize, ’n opgeleide musiekonderwyser wat onder meer klavier, viool, blokfluit en kerkorrel bespeel, het vroeër ook ’n skoonheidsalon bedryf. Met Eureka se musieksentrum wat pas weer bedrywig geraak het, het sy vir die pos aansoek gedoen, waarin sy aangestel is.

  • Venter volg Manie Verreynne op wat sedert 2010 die hoof van Eureka was en reeds van Julie 1999 af by die skool betrokke was.

You need to be Logged In to leave a comment.