Ná drie maande is die nuwe hoof van die Kimberley Girls’ High School, die Diamantstad se oudste meisieskool, tuis en gaan sy “bly totdat sy eendag aftree”.
Só meen Safiyia Stanfley (49), wat vanjaar as die hoof aangestel is by die skool, wat in 1887 gestig is.
Stanfley, wat uitgebreide ondervinding in die onderwysstelsel het, het die afgelope twee en ’n half jaar by die Kimberley Boys’ High School skoolgehou, waar sy Afrikaans eerste addisionele taal gegee het.
“Seuns en meisies verskil baie. Seuns is meer voortvarend as meisies, wat sagter is.
“Gelukkig het ek ’n seun en ’n dogter, ek weet hoe hul kop werk.”
Sy voel tuis in die groot prinsipaalkantoor met sy hemelhoë plafonne en lang vensters waardeur die lig val.
Die gebou, ’n nasionale monument, is deur die bekende argitek Daniel Greatbatch ontwerp.
Stanfley, wat haar onderwysgraad in 1994 aan die Perseverance-onderwyskollege behaal het, het haar loopbaan as lektor aan die destydse kollege vir tegniese en beroepsonderwys en -opleiding (TVET) begin.
Later jare het sy haar onderwyskennis ingespan toe sy ’n DA-LW en -woordvoerder van onderwys was.
“In 2019 het ek bedank. Dit was tyd vir iets nuuts, maar eers het ek gehaltetyd saam met my gesin bestee, omdat ek as wetgewerlid baie gereis het.
“Teen 2020 was ek gereed om te begin werk, maar toe slaan die pandemie toe. Omdat baie ouer onderwysers of diegene met onderliggende siektes nie by die skoolgebou mag wees nie, is ek tydelik by Kimberley Boys’ High School aangestel. Dit was wonderlik om weer in die onderwys betrokke te wees.”
Sy was ’n beheerliggaamlid (SBL) aan die Hoër Tegniese Skool Kimberley en Hoërskool Noord-Kaap, waar sy waardevolle ervaring opgedoen het.
“Ek beywer my ook daarvoor om goeie samewerking met die SBL te bewerkstellig.”
In haar onderhoud vir die betrekking as hoof het sy vir die keurpaneel gesê sy gaan nie prosesse of stelsels verander nie.
“Ek gaan die kultuur en mense leer ken, sodat almal saamwerk om die skool van krag tot krag te neem.
“Die pos is ’n uitdaging omdat ek nog nie hier skoolgehou het nie.
“Ek gee Afrikaans addisionele taal vir die gr. 8’s.
“As ek self klasgee, verstaan ek die uitdagings van leerlinge en onderwysers soveel beter en is dit makliker om saam met die span oplossings te bedink.”
Sy het nog “ ’n berg om te klim”, maar glo teen volgende jaar is sy heeltemal ingeburger.
“Die skool het ’n wonderlike bestuurspan wat my lei.”
Die skool het verlede jaar nie ’n 100%-slaagsyfer in die nasionale seniorsertifikaateksamen behaal nie.
“Ons het drie druipelinge gehad. Die pandemie het ’n rol gespeel. Leerlinge moes by die huis sit en leer en op hul eie die werk probeer verstaan. Leerlinge neem ook nie altyd die regte vakke wat by hul loopbaankeuse pas nie. Jy het nie wiskunde nodig om regte te studeer nie. Ons praat met ouers oor hul kinders se loopbaankeuses en vakkeuse wat dit ondersteun.”
Stanfley sê hulle werk hard om vanjaar ’n 100%-slaagsyfer in die nasionale seniorsertifikaateksamen te behaal.
“Ons het intervensieklasse, en moedig leerlinge aan om ook van aanlyn klasse gebruik te maak.
“Jy begryp dalk beter as iemand anders die vakinhoud op ’n ander manier verduidelik. Meer beraders word ook betrek om leerlinge by te staan.
“My wetgewerondervinding kom goed te pas. Ek stel ander vrae as die res van die personeel, en saam bedink ons nuwe maniere om probleme beter of selfs goedkoper op te los.
“Ons het die vrymoedigheid om departemente soos dié van gesondheid of maatskaplike ontwikkeling vir hulp in te roep.”
Sy is verheug dat die skoolkoshuis opgeknap word, waarna die skool se dakke en plafonne reggemaak word.
“Die tennis- en netbalbane gaan later na die sportterrein verskuif sodat nuwe klaskamers gebou kan word.”


