Thapelo Matlala, stadsbestuurder van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley en sy span, het Donderdagmiddag 11 April ’n enorme lekplek op die 900 mm-deursnit grootmaattoevoerpyplyn naby Galeshewe ontdek.
Dit kom nadat die munisipaliteit nie weer die watertoevoer Maandag kon aansluit ná verlede week se herstelwerk waarin vier ander lekplekke herstel en vier besinkdamme by die Riverton-suiweringsaanleg opgeknap is nie.
Ingevolge die herstelplan sou die toevoer vanaf Donderdag 4 April om 18:00 tot Maandag 8 April om ongeveer 18:00 vir herstelwerk afgesluit wees.
Sharon Steyn, hoofbestuurder van die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci) het dit ’n krisis genoem terwyl die stadsbestuurder dit ’n onvoorsiene uitdaging noem.
Die ontdekking kom nadat amptenare bepaal het dat die drukking in die 600 mm-deursnitpyplyn na wense is, maar nie die drukking in die 900 mm-pypleiding nie. Die oorsaak was toe nog onbekend.
‘Pompe by Newton in werking; beplande herstelwerk hoogs suksesvol’
Matala sê dit lyk of die waterdruk die Gogga-uitlaatklepkamer op die pypleiding laat ineenstort en op die pypleiding geval het. Hulle sou Donderdagmiddag ’n gedeelte van die pypleiding afsluit en deur die nag werk om die lek te herstel. Die water moet eers weggepomp word om die omvang van die skade te bepaal en dan kan dit herstel word.
Sekere gedeeltes van die stad soos Homevale en Galeshewe sal steeds water uit aftappypleidings ontvang. Ander gebiede sal water uit tenks verkry.
“Ek vra om verskoning en inwoners se geduld,” sê Matlala.
Donderdagoggend het Matlala joernaliste na die laaste uitlaatklepkamer op die 900 mm-deursnitpypleiding voor die Newton-opgaardamme in die veld langs die Pirates-klub ontbied waar hulle kon sien die druk is nie na wense nie. Die toevoer na die leë opgaardamme by Newton was baie min.
“Daar is niks fout met die pompe by die Newton-opgaardamme nie, ondanks die gerugte,” het Matlala gesê.
Matlala kon toe nie sê hoekom daar probleme met die drukking in die grootmaatpypleiding is nie.
“Niks het verkeerd geloop met die herstelwerk nie. Die erge reën het die herstelwerk wel vertraag. Ons moes soms in gietende reën werk. Die skoonmaak van die besinkdamme en herstelwerk aan die lemme is ook twee dae later as beplan voltooi. Uiteindelik was die herstelwerk hoogs suksesvol en is ons baie tevrede met die werk wat gedoen is.”
Die water wat nou by Riverton gesuiwer word, is van die “hoogste gehalte. Dit is fantasties,” het hy gesê. “Die besinkdamme is nou so skoon asof dit nuut is en die filters word nie met vuilis blokkeer nie. Die gehalte en die kwantiteit water is nou uiters goed.”
Hy het voorspel dat dit tyd sal neem voordat watertoevoer ten volle herstel is omdat dit lank neem om die stelsel met water te vul.
Gereelde kommunikasie verwelkom; verwag
Steyn sê sy verwelkom Matlala se openlikheid en die munisipaliteit se aanvanklike kommunikasie oor die herstelwerk en wat dit sal behels.
“Ons is hoogs beïndruk met die herstelwerk en die gereelde kommunikasie. Daar was egter sedert Dinsdag geen bevredigende antwoorde hoekom die watertoevoer nie ten volle herstel is nie. Gerugte het die rondte gedoen dat van die pompe onklaar is. Ons het nie geweet wat die waarheid is nie, want die munisipaliteit het toe nie kommunikeer nie. Ons moet weet wat aangaan, sodat ons kan voorberei.”
Sy sê mense se watertenks het begin leeg raak.
“Die munisipaliteit moet te alle tye ’n rugsteunplan gereed hê wanneer probleme opduik en herstelwerk skeefloop.”
- Intussen het Thabo Mothibi, woordvoerder van die munisipaliteit, Donderdag omstreeks 19:45 aangekondig dat watertenkers weer in die stad aangewend sal word, met watertenks op spesifieke liggings. Hy sê daar word voorsien dat die herstelwerk en die vul van die stelsel ná die herstelwerk, ongeveer 48 uur kan duur.


