Argumente, misverstande, padwoede en uitlokking bly die hoofoorsake van die moordsake wat die polisie in die Noord-Kaap in die vierde kwartaal van 2024-’25 ondersoek het.
Volgens die misdaadstatistiek wat verlede week uitgereik is, het moorde in Januarie tot Maart vanjaar van 91 tot 112 toegeneem in vergelyking met verlede jaar dieselfde tydperk.
Slegs een van die moorde het tydens ‘n rooftog plaasgevind. Die meeste is in openbare ruimtes gepleeg, en die tweede meeste in die huis van hetsy die slagoffer of die oortreder. Vier moorde is in tavernes of nagklubs gepleeg.
Twee moorde is op landbougrond gepleeg. In die een geval in die Augrabies-omgewing het ‘n geveg tussen twee plaaswerkers uitgebreek waartydens die een die ander verskeie kere gesteek het. In die ander geval in die Rosedale-omgewing het ‘n 22-jarige vrou haar 44-jarige vriend met ‘n skerp voorwerp gesteek wat tot sy dood gelei het.
In die uitvoering van die moorde was ‘n mes die mees algemene wapen (in 54 gevalle), terwyl ‘n vuurwapen, skerp voorwerp of liggaamsdele soos hande of voete elk in vier moordgevalle gebruik is. Stomp voorwerpe, asook stene of klippe, is ook gebruik.
Aangemelde verkragtings in die tydperk het met vyf gevalle toegeneem, vanaf 297 tot 302.
Die meeste verkragtings is by die Mothibistad-polisiekantoor aangemeld en die tweede meeste in Galeshewe, gevolg deur die Kimberley-polisiekantoor, en dan Postmasburg.


