- ’n Groep van tien mans en 11 vroue sal weer op 10 Mei in die landdroshof in Upington verskyn nadat die polisie hulle aan die einde van Maart op ’n plaas 70 km buite die dorp in hegtenis geneem het omdat hulle onwettig in die land is. Hul visums het verstryk en hulle het verskeie vuurwapens en ammunisie onwettig in hul besit gehad. ’n Amerikaner, Todd Bernick, word as die “profeet” en leier van die groep beskou. Hulle het glo om “veiligheidsredes” uit Amerika na Suid-Afrika gevlug. – Johan Eybers
- Die VF Plus het in Maart in ’n verklaring gesê dat hy sy stryd teen rioolbesoedeling in die Phokwane-munisipaliteit sal voortsit aangesien die rioolsuiweringsaanleg steeds buite werking is. Onbehandelde riool vloei uit die aanleg in ’n stormwaterkanaal en na die Hartsrivier. Die water word onder meer vir besproeiing gebruik. Die aanleg is in 2017-’18 teen R20 miljoen verbeter.
- AfriForum, die burgerregte-organisasie wat reeds groot sukses behaal het met die verdediging van die grondwetlike regte van veral wit Afrikaners, beplan om ’n soortgelyke organisasie onder bruin Wes-Kapenaars te stig. Die radio- en TV-aanbieder Heindrich Wyngaard is reeds as die hoof van die organisasie aangewys, wat as die Kaapse Forum bekend sal staan. – Dawie Boonzaaier
- Die Sol Plaatje-munisipaliteit, wat Kimberley en Ritchie insluit, betoon min simpatie met sukkelende huishoudings en ondernemings met die aankondiging van verhoogde tariewe vir elektrisiteit, vullisverwydering, sanitasie en water, sê die VF Plus in ’n verklaring. Die munisipaliteit het verlede week sy konsepbegroting vir die 2022-’23-bedryfsjaar ter tafel gelê. Die voorgestelde tariefverhogings is soos volg: eiendomsbelasting – 6,82%; elektrisiteit – 6,84%; water – 5,86%; sanitasie – 4% en vullisverwydering – 4%. Die party sê die munisipaliteit se skuldinvorderingskoers op diensterekenings is net meer as 55% en sal toeneem omdat inwoners bloot nie die tariefverhogings sal kan bekostig nie.
- ’n Munisipale werker in Kakamas is Saterdag (02/04) in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde koperkabels ter waarde van R7 000. Lt. kol. Nico Maree en AO Johny Basson het inligting ontvang dat kabels in die veld naby Maraba in Langverwag aan die brand gesteek is. Die verdagte is op die toneel in hegtenis geneem, en ’n tweede verdagte het gevlug. Die polisie bedank die gemeenskap vir die inligting ontvang.
- Die ontwikkeling van mynboubedrywighede en investering in die Noord-Kaap, waardeur die provinsie ekonomies kan groei, word ernstig gekniehalter deur die regering se rompslomp. Dit het aan die lig gekom toe die lede van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) verlede week toesigbesoeke aan die Vedanta-myn by Gamsberg, naby Aggeneys, en die Orion-myn by Nababeep gebring het. Die regering verhinder sedert 2015 die hersonering van grond, wat reeds aan Vedanta behoort, vir die ontwikkeling van behuising, sê Willie Aucamp, NRP-lid en DA-kiesafdelingshoof in die Kalahari. Omdat daar nie verblyf in Aggeneys is nie moet baie mynwerkers elke dag tussen 140 km en 200 km na en van Springbok of Pofadder reis om by die werk te kom. Hy sê dit is absurd dat die regering die ontwikkeling keer van duisende huise wat sowat 16 000 mense sal kan akkommodeer – en dit terwyl dit hom niks sal kos nie.
Nuusgebeure kortliks byeen
Hier volg ‘n opsomming van verskeie nuusgebeure oor die Noord-Kaap heen:
Share this post:
Share this post:
Related Articles
Leave a comment
You need to be Logged In to leave a comment.