Kalahari-inwoners was die een oomblik besig om geld in te samel vir boere wat in die omgewing onder die droogte gebuk gaan toe die Covid-19-pandemie die land uit die bloute tref.
“Ons was nog besig om mense te mobiliseer om verligting aan ons kwesbare boeregemeenskap te bring, toe nog ’n straf oor ons pad kom,” vertel ’n bejaarde kerktannie.
Sy sê hier in die woestyn het mense hul eie swaarkry.
Hier op die duine van die Kalahari het niemand ooit gedink die koronavirus gaan tref nie.
“Ek het gedink my kleinkinders gaan in geskiedenisboeke oor die virus lees soos wat ek op skool oor die Swart Dood geleer het wat tot die dood van miljoene mense in Europa en Asië gelei het.”
Maar toe word die nasionale staat van inperking in Suid-Afrika aangekondig, sê sy.
“Ek kon net bid. Ek het gebid vir my kinders en kleinkinders . . . vir my huiswerker wat soos ’n tweede ma vir my kinders is. Ek het gebid vir haar geliefdes wat in Joburg ver van haar is.”
Sy vertel verder sy het gebid vir die land se mense wat onder die broodlyn leef.
Ongelukkig is daar oor Suid-Afrika heen nog erge armoede.
“Wat gaan nou van ons vergete mense word wat nie ’n jobbie mag gaan soek om hul kinders te voer nie?”
Sonder om te vra het mense begin help.
“Net soos met die droogtehulp het mense hul deel begin doen en saamgestaan. Ons het weer geleer om in ander mense se skoene te staan.”
Maar ander gebruik steeds ons verskille om téén mekaar te werk. Talle gebruik die virus om hul eie persoonlike agendas te bevorder, hulself te verryk en ander af te kraak, sê sy.
Ondanks die feit dat ons land uit verskillende rassegroepe bestaan en uit verskillende agtergronde kom, gaan ons almal onder die pandemie gebuk, meen sy. Net soos almal onder die droogte swaarkry.
“Ons het mekaar nodig want Covid-19 is nie kieskeurig nie. Die koronavirus is kleurblind.
“Ons moet nou saamstaan en saamwerk.”