’n Toutrekspan tydens die onlangse Afrika-toutrekkampioenskap wat in Zimbabwe plaasgevind het. ’n Aantal Noord-Kapenaars was deel van die Suid-Afrikaanse Gazelle-span.

Foto: Verskaf

’n Aantal Noord-Kapenaars was onlangs deel van die Suid-Afrikaanse Gazelle-span wat aan die tiende Afrika-toutrekkampioenskappe in Zimbabwe deelgeneem het.

Altesaam 29 klubs en 412 atlete van verskeie Afrika-lande het aan dié byeenkoms aan die einde van Junie by die Victoria-valle deelgeneem. Mans én vroue van die Noord-Kaap was in die span ingesluit, asook twee afrigters van Noord-Kaap Toutrek, Werner Kleynhans en Kobus Louw. Die Suid-Afrikaners het verskeie medaljes ingepalm in die vyf afdelings waarin deelgeneem is.

In die 640 kg- en 720 kg-klubafdeling, oop en geslote, het Suid-Afrika goud verwerf.

In die 600 kg-gemengde afdeling, oop en geslote, is ook goud verwerf.

So is goud ook verwerf in die vroue 560 kg geslote afdeling.

Die vroue-afdeling 520 kg, oop en geslote, het silwer ontvang.

Drie Noord-Kapenaars is in die Springbokspan ingesluit wat in September aan die Wêreldkampioenskap in Duitsland gaan deelneem. Hulle is Johan Nel van die Postmasburg-toutrekklub, asook Blanche Swanepoel en Dané Jooste, albei van die Flamingo-toutrekklub in Kimberley.

Toutrek word beskou as een van die sportsoorte wat die meeste krag oor ’n kort tydperk vereis, met tegniek en sinchronisering as ’n span van uiterste belang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article