Eric Kok, boorling van Roodepan by Kimberley, skrywer, dramaturg, regisseur en filmmaker van formaat, se oë is reeds op die Oscar-eerbewyse nadat sy rolprent Liesbet vyf eerbewyse, insluitend beste rolprent, by die onlangse Thokoza-filmfees in Gauteng gewen het.
Sy prestasie kom ondanks ’n gebrek aan belangstelling van die Noord-Kaapse regering om die rolprent te befonds of hom geldelik te help om die toekenningsgeleentheid by te woon.
“Dit maak ook nie saak nie, want ek het nou bewys hoe goed die rolprent deur my eweknieë geag word en hoe gewild dit onder gehore is. Die regering het my nog nie gelukgewens met my toekennings nie. Miskien nou met bewyse dat ek goeie rolprente maak, sal die Noord-Kaapse regering my steun.”
Die eerbewyse sluit ook in beste draaiboek wat hy aan sy pa, wyle Eric John Kok opdra, beste aktrise vir Magdalena Isaacs wat die rol van Liesbet vertolk, beste kinematografie en beste redigeerder. Die beste rolprent-eerbewys dra hy aan sy ma, Margaret Kok, en wyle ouma, Frieda Kok, op.
“Ek sou dit ook nie sonder die produksiespan, akteurs, gemeenskap, kerk en God kon doen nie,” sê hy.
Dit was die eerste keer wat die betrokke filmfees in Ekurhuleni in Gauteng aangebied is. Dié munisipaliteit, die Nasionale Loterykommissie en ander borge het dit ondersteun. Die fees het oor vier dae gestrek en werksessies is deur kenners aangebied waarby Kok baie gebaat het.

Menslike drama bekoor gehoor
Die dag toe sy rolprent aan die meesal Zoeloe- en Xhosa-sprekende Gautengse gehoor vertoon is, was hy bekommerd.
“Ek het gestres, want die mense daar praat en verstaan nie Afrikaans so goed nie. Die fliek het onderskrifte gehad, sodat die gehoor die storie kon volg. Daarbenewens speel die fliek in ’n bruin gemeenskap in Kimberley af, wat in sekere opsigte ’n ander kultuur is as in Gauteng.”
Sy rolprent is ’n menslike drama, in skerp teenstelling met die ander rolprente wat meer aksiebelaai was.
“Dit is ’n stadige rolprent, darem ook met humor en aksie. Ek kon agterkom die Johannesburgse gehoor is stiller as die gehoor in Mei vanjaar in Kimberley waar die première was. Die gehoor het gelukkig vasgenael bly sit.
“Toe die credits rol, het hulle my staande toegejuig. Dit is ’n jonger gehoor, mense wat baie skerp met hul kritiek is. Ek was verheug dat hulle gek was oor my fliek. Die menslike drama in my fliek het hulle bekoor, al is dit ’n stadige fliek. Een vrou het agterna gesê ek is sekerlik ’n Christen, want my rolprent gaan oor diep vergifnis.”
Kok hou nie van gewelddadige verhale waarin bendegeweld verheerlik word nie.
Liesbet handel oor ’n vrou wat haar eie drome ter wille van kinders moet prysgee. Liesbet bly agter in iemand se werf in ’n klein huisie in ’n poging om geld te spaar. Haar groot droom is om eendag haar eie huis te besit. Haar dwelmverslaafde dogter daag op ’n dag op om haar seun, Liesbet se kleinseun, te kom haal. Dit is wanneer die probleme begin en Liesbet moet kies tussen haar droom en haar liefde vir haar gesin.
‘Niks was fout nie’
Die draaiboek is reeds in 2018 geskryf. Hy het in 2019 en 2020 by die Noord-Kaapse departemente van sport, kuns en kultuur en finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme aansoek vir finansiering gedoen.
“Dit was doodloopstrate. Toe gee die Nasionale Rolprent-en-videostigting (NFVF) ’n beurs en ons kon begin skiet. Die geld was nie genoeg om die akteurs en span te vergoed nie, daarom het ek van my eie geld ook ingestoot.”
Liesbet was vroeër eers ’n episodiese verhaal op Facebook.
“Ek het daarom die einde aangepas, want almal in Roodepan weet wat die einde is.”
Die storie is deur sy ma en ouma se opofferings geïnspireer. Kok se pa het hom altyd aangemoedig om aan te hou skryf en sy repertoire op te bou en voortdurend sy skryftalent te slyp.
“My pa het verstaan wat aangaan wanneer ek stilsit en teruggetrokke is, wat in my aangaan. Terwyl my ma altyd bekommerd was iets is fout.”
Niks was fout nie. Hy was besig om sy drome uiteen te sit. Die Thokoza-filmfees was nog ’n platform om sy talent te vertoon.
“Op die vooraand van die toekenningseremonie was my hart reeds spierwit oor die goeie terugvoering van die rolprent. Dit alleen was al genoeg.”
Op die toekenningsgeleentheid het sy maag gedraai.
“Dat die beoordelaars my fliek in heelwat kategorieë benoem het, was die eerste verrassing. Ek het nie geweet of ek iets gaan wen nie. Die eerste toekenning was vir beste regisseur, wat ek tot my teleurstelling nie gekry het nie.
“Die tweede toekenning was vir die beste draaiboek. Die aankondiger het gewag dat die beoordelaars die wenner se naam na sy selfoon stuur. In dié oomblikke skreeu die gehoor ‘Liesbet, Liesbet’. Toe hy eindelaas aankondig dat Liesbet wen, was ek verward.
“Iemand, ek kan nie onthou wie nie, het my gepor om na die verhoog te loop. Ek het my toespraak gegee, dankie gesê, en gaan sit.
“Toe moet ek weer opstaan om die volgende toekenning te ontvang. Met die volgende een kon ek nie eers gaan sit nie, want ek moet teruggaan verhoog toe. Teen dié tyd was ek emosioneel, my oë vol trane. Die oorkondes langs my stoel het opgestapel.
“Hoewel ek nie die oorkonde vir beste regisseur gekry het nie, het ek baie geleer uit die kompeterende rolprente. Ek kon sien op watter aspekte Liesbet kon verbeter. Van die ander rolprente was tegnies goed versorg en kan reguit TV toe gaan. Die filmspan op my stel was meer onervare, ons is nog besig om meer oor die kuns van rolprentmaak te leer. Ek is eintlik baie tevrede met dit wat die span alles vermag het.
“Ons het baie uitdagings gehad. Tydens die verfilming was daar betogings, krag- en wateronderbrekings en ’n reënstorm het ons stel verwoes, wat ons moes oorbou.”
Liesbet se pad nog nie klaar
Kok het in Johannesburg drie filmmakers ontmoet wat met hom op projekte wil saamwerk. Dit behels onder meer ’n rolprent wat in Kimberley begin, maar grootliks in Johannesburg afspeel en ’n dokumentêre produksie.
Liesbet gaan ook vir die Rustenburg Filmfees, die Tuinroete Internasionale Filmfees, die Silwerskermfees en die Suid-Afrikaanse Film en Televisie-toekennings (Saftas) ingeskryf word.
Kok is besig met die teks van ’n verhoogproduksie oor geslagsgebaseerde geweld wat hy volgende jaar wil opvoer en nog ’n rolprent wat meer hartseer as Liesbet is.
Intussen maak by dokumentêre kortflieks van vyf minute met verskillende maatskaplike temas vir iKasi Voices. Dit is ’n organisasie sonder winsbejag wat dokumentêre programme vir Cape Town TV maak, ’n TV-kanaal wat ook op DStv uitgesaai word.
Kok mik al hoër en verder.
“Ek kan nie net meer in die Noord-Kaap bly nie. Daar is die res van die land, en elders, plekke soos Hollywood, Cannes, Austin jy weet.”


