Spelers van Noord-Kaap-rolbal het onlangs tydens verskeie byeenkomste die provinsie se naam hoog gehou.
Tydens die nasionale byeenkoms van Bowls for the Disabled South Africa wat van 17 tot 23 Maart in Kaapstad aangebied is, het Noord-Kaap vier goue medaljes verower.
Petrus (Lappies) Labuschagne van Noord-Kaap-rolbal was die afrigter-geleier van Gamiet Fortune van die Westelike Provinsie en het goue medaljes in die enkel- en pare-kategorie in die B1-afdeling verwerf
Wat die prestasie soveel groter maak is dat dit Fortune se eerste keer was om in die afdeling deel te neem, en Labuschagne se eerste kennismaking daarmee om ’n blinde persoon af te rig.
Boonop het hulle net ’n uur gehad om te oefen voor die toernooi begin het.
Tydens die byeenkoms het Protea-speler Wimpie Viljoen van Noord-Kaap Rolbal, ook goud in die enkel- en pare-kategorie in die B8-afdeling saam met Gustav van der Merwe van Gauteng-Noord gewen.
Jong spelers van Noord-Kaap Rolbal het ook aan Rolbal Suid-Afrika se nasionale junior kampioenskappe in Bloemfontein deelgeneem wat van 22 tot 25 Maart plaasgevind het.
Vir dié byeenkoms het Noord-Kaap-rolbal twee o.18- en twee o.25-spanne ingeskryf.
“Dié spelers, wie vir die eerste keer tydens die byeenkoms saamgespeel het, het karakter en veggees getoon,” sê Braam van der Westhuizen, president van Noord-Kaap-rolbal.
Spelers van so ver as Upington, Kuruman, Prieska, Hanover en Bloemhof het deelgeneem.
Behalwe bogenoemde prestasies, het Charles Peter Mathewson in Februarie silwer tydens die Suid-Afrikaanse o.30-meesterstoernooi gewen. Hy is ook ’n Protea-speler.
In die ope mans-afdeling het Noord-Kapenaars tydens die nasionale interdistrikte-toernooi die beste tot nog toe gevaar deur derde te eindig; en al die ander spanne van die provinsie het boonop ’n verbetering teenoor die vorige jaar getoon.
Hy meld ook dat die Noord-Kaap, met die kleinste aantal spelers van al die provinsies, beslis ’n indruk tydens kampioenskappe maak.
Van der Westhuizen sê hy en die bestuur is ongelooflik trots op die spelers se prestasies.
“Hier is groot potensiaal wat ontgin moet word,” sê Van der Westhuizen en noem dat nog groter sukses behaal kan word met meer hulpbronne tot die sport se beskikking.


