Foto ter illustrasie.

Foto: Unsplash

Terwyl Noord-Kaapse onderwysvakbonde steeds hul werk-volgens-die-boek-staking (“work-to-rule”) uitvoer en net sewe ure per dag werk en nie buitemuurse sportaktiwiteite doen nie uit protes oor die provinsiale departement se wanbetaling aan behoeftige skole, dreig ’n nasionale staking waarin geen werk verrig sal word nie.

Intussen blyk dit amptenare en betrokkenes het ná groot ontevredenheid ’n besluit omgekeer sodat skoleatletiek, spesifiek baan- en veldbyeenkomste, voortgaan ondanks die sloerstaking van onderwysers.

Dit volg nadat ’n sloerstaking op 27 Januarie uitgeroep is weens die departement se wanbetaling aan skole. Die departement het net 27% van sy begroting betaal vir sukkelende skole se koshuisgelde, munisipale diensterekenings, voedingskemas, tydelike onderwysers en leer-en onderrigmateriaal.

Luidens ’n verklaring van die Noord-Kaapse Skole-atletiekstruktuur het hulle weens die staking besluit om alle provinsiale baan- en veldbyeenkomste vir 2025 te beëindig. Geen baan- en veldbyeenkomste sou geskied en geen spanne gekies word om aan die Suid-Afrikaanse Skole-atletiekkampioenskappe (Sasa) deel te neem nie.

Geoffrey van der Merwe, departementele woordvoerder, het egter die naweek aangekondig dat mededingende skolesport steeds voortgaan.

“Dit volg op deeglike oorweging en samesprekings met die Noord-Kaap Skole-atletiekstruktuur, wat sy verbintenis uitgespreek het om sportaktiwiteite te laat voortgaan.”

Wat betref die skolesport, sê Van der Merwe dat die departement die beste belang van leerlinge op die hart dra, aangesien dit aan hulle die geleentheid sal bied om op distrik-, provinsiale en nasionale vlak mee te ding.

“Ons erken die opofferings wat baie leerlinge, ouers, opvoeders en skole gemaak het in die voorbereiding vir die atletiekkampioenskappe.

“Nuwe datums sal formeel deur die Noord-Kaap Skole-atletiekstruktuur aan alle deelnemende skole bekend gemaak word.”

Krisis dreig sedert einde 2024

Op 31 Januarie het die departement aangekondig hy het R100 miljoen in samewerking met die Provinsiale Tesourie “gevind” om van die rekeninge te delg in “belang van gehalte onderwys,” het Van der Merwe gesê.

Die krisis dreig sedert die einde van verlede jaar toe die departement nie die nodige geld aan skole gegee het waar leerlinge nie skoolfonds betaal nie.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) en die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysvakbond (Sadou) volg sedert die einde van Januarie uit protes die werk-volgens-die-boek-staking, wat beteken dat hulle elke dag skoolhou, maar geen buitemuurse aktiwiteite aanbied nie.

Tog het die meeste onderwysers steeds met sportafrigting volgehou sodat leerlinge nie benadeel word nie.

Skoolhoofde oor die provinsie heen het aan NoordkaapBulletin gesê hulle het steeds afrigting gedoen, maar op minder geleenthede. Ywerige atlete is ook aangemoedig om lede by Atletiek Suid-Afrika (ASA) te word, wat ook sy eie nasionale kampioenskappe, soos die Noord-Kaap Skoleatletiek, aanbied.

Henk Brand, provinsiale sekretaris van die SAOU, sê die R100 miljoen wat die departement gevind het, is gebruik om tydelike onderwysers en ’n gedeelte van die voedingskema te betaal, maar hy weet nie veel meer nie.

“In ’n ongewone stap het die departement met skole oor die betaling van onderwysers gekommunikeer. Koshuisgelde, instandhoudingsgeld en gr. R-praktisyns se toelae of stipendia is nog nie betaal nie. Ons briewe hieroor aan die waarnemende departementshoof en die hoof-finansiële beampte bly onbeantwoord.”

Brand sê hulle het geen idee hoe die algehele begroting lyk en hoe dit bestee word nie.

“Die werk-volgens-die-boek-staking gaan onbepaald voort totdat al geld betaal is. Dit blyk ook dat ’n nasionale onderwyserstaking dreig.

“Die Raad op Arbeidsverhoudinge het reeds op nasionale vlak versoek dat daar by die Noord-Kaapse departement van onderwys ingegryp word om ’n algehele staking provinsiaal, en dalk nasionaal, te verhoed.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article