‘n Jong Noord-Kapenaar en oudleerling aan die Hoërskool Diamantveld maak al meer naam in nasionale en internasionale netbalkringe.
Mari du Raan, oorspronklik van Douglas, was deel van die Suid-Afrikaanse (SA) netbalspan wat verlede week aan die Streek 5 Jeugspele in Windhoek, Namibië, deelgeneem het.
Nie net is die SA-netbalspan as kampioene in dié toernooi aangewys nie, maar is Du Raan boonop as Doelskieter van die Toernooi benoem. Volgens Netbal Suid-Afrika is dit ‘n “uitstaande vertoning op die groot verhoog.”
Tydens haar hoërskoolloopbaan het Du Raan onder meer nasionale kleure verwerf nadat sy vir die o.17-Protea-netbalspan gekies is. Sy was ook in die o.18-Protea-Fast 5-netbalspan ingesluit. In haar matriekjaar is sy vir die o.21-SA kwalifiseringsnetbalspan gekies, asook vir o.21-SA Netbal Wêreldbekerspan.

Sy is ook in die nasionale o.21-groep ingesluit wat aan die Telkom Netballiga (TNL) deelneem ter voorbereiding op die Netbal-Jeugbeker in Gibraltar, wat van 19 tot 28 September plaasvind.
Tydens verlede week se Jeugspele het die Suid-Afrikaners hul weg na ‘n goue medalje met uitmuntende wedstryde gebaan. Op 6 Julie het hulle met ‘n telling van 53 – 38 teen Zambië gewen; op 7 Julie met 92 – 14 teen Eswatini; en op 8 Julie met 48 – 29 teen Malawi. In die halfeindwedstryd op 10 Julie het hulle Namibië met 60 – 26 geklop, en in die eindstryd op 11 Julie vir Malawi met 37 – 32.
Hierdie spele is deur die Afrika-Unie Sportraad (AUSC) begin, met die vasteland is vyf streke verdeel. Streek 5 hanteer dié sportaktiwiteite in Suider-Afrika.
Die tien lande in dié streek is Angola, Botswana, Lesotho, Malawi, Mosambiek, Namibië, Suid-Afrika, Swaziland, Zambië en Zimbabwe. Hierdie spele berei jonger atlete voor vir internasionale kompetisie, met die Olimpiese Spele die oogmerk.
- Ook op die netbalfront het die TNL se derde kragweek vir 2025 op Maandag 14 Julie in Durban begin en dit duur tot Sondag. Verskeie provinisale spanne neem in afdeling een en twee van dié liga deel.



You must be logged in to post a comment.