’n Noord-Kaapse man wat sy meisie se pa vermoor het nadat hy uit aanhouding vrygelaat is weens gebrekkige ondersoekwerk in verband met die moord op sy broer, is op Vrydag 3 Mei in die rondgaande hooggeregshof in Upington lewenslange tronkstraf opgelê.

Christoffel Samuel Irion (32) is ook 15 jaar tronkstraf opgelê weens die moord op sy broer, Jacques Jacobus Irion, en vyf jaar weens aanranding van ’n ander persoon met die doel om ernstig te beseer.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Noord-Kaap, sê in ’n verklaring Irion het sy broer op 2 November 2019 by hul ouerhuis in Keimoes in die rug gesteek.

Hulle het stry gekry omdat Irion wou hê sy broer moet sy skoene uittrek en dié geweier het om dit te doen. Nadat hy gesteek is, het Jacques uit die huis gehardloop om hulp te soek. Toe ’n buurman Jacques te hulp snel, het Irion hom in die kop gesteek.

Jacques is op die toneel dood verklaar en Irion is in hegtenis geneem. Hy was 11 maande in aanhouding voordat die saak teen hom weens gebrekkige ondersoekwerk van die hofrol geskrap is.

Luidens die verklaring het Irion sy meisie se pa op 27 Februarie 2021 vermoor.

Hy is dié dag na die meisie se huis op Keimoes, waar die meisie, haar tante en haar pa, Jacob van Wyk, was.

Hy wou hê sy meisie moet saam met hom gaan, maar sy het geweier.

Toe Van Wyk tussenbeide tree om sy dogter te beskerm, het Irion hom met ’n mes gesteek.

Van Wyk is op die toneel dood verklaar en Irion is weer in hegtenis geneem.

Sue-Ann Weyers-Gericke, die aanklaer, het betoog dat Irion die maksimum vonnis opgelê moet word omdat hy twee mense vermoor en nog een aangerand het.

You need to be Logged In to leave a comment.