‘n Man, oorspronklik van De Aar, wat tans sonder heenkome in Parow in die Wes-Kaap is, het ‘n begeerte om na sy tuisdorp in die Noord-Kaap terug te keer.
Die 47-jarige Mannetjies Stefaan Huig het dekades gelede in die Wes-Kaap aangekom om te werk. Ná al dié jare het hy ‘n begeerte om met sy familie te herenig.
“Hy wil graag huis toe gaan,” vertel André Isaacs, ‘n inwoner van Parow wie gereeld met Huig in die verbygaan geselsies aanknoop.
Huig het Isaacs gevra om hom te help om terug te keer na De Aar. In ‘n poging om dit reg te kry, is by verskeie organisasies en instellings om hulp aangeklop, sonder sukses.

Volgens Huig is albei sy ouers oorlede, en was hy ‘n enigste kind. Hy het ‘n niggie met die naam Nooi, en sy het laas in ‘n hostel in Kimberley gewoon. Hy is onseker oor die name van ander familielede.
“Ek is bekommerd oor sy veiligheid en oor sy gesondheid. Hy het geen skuiling nie – hy slaap buite.
Dit is baie gevaarlik om buite te slaap,” vertel Isaacs.
“Ek wil graag hê hy moet met sy familie herenig.
“As ek Shoprite toe gaan, loop ek verby hom. Dan roep hy vir my en gesels ons. Hy vra dan vir my dat ek hom asseblief moet help – hy wil huis toe gaan. Dan vertel hy hoe gevaarlik dit in die aand buite is,” sê Isaacs.
Enige persoon van die De Aar-omgewing wie vir Huig ken of herken, of kan help om hom in De Aar te besorg, word gevra om vir Isaacs te kontak by 073 520 1079. ‘n WhatsApp-boodskap kan ook gestuur word.
You must be logged in to post a comment.