Voorspellings van ’n vuurstorm Maandagmiddag (27/09) wat alles in sy pad gaan verswelg en tot 30 km of 40 km wyd van die oostelike grens van die Noord-Kaap tot in die Vrystaat gaan brand, het boere en brandslaners genoop om weens veiligheidsredes te onttrek en eerder hul diere na veiligheid te bring.
Die vuurstorm sal glo deurnag heers, aangevuur deur winde en hoë temperature, en ‘n ramp veroorsaak.
Intussen is motoriste gewaarsku om nie op die N12-roete of die R357-roete te ry nie weens wild wat op die pad hardloop om van die vlamme te ontvlug. Op Langberg suid van Kimberley is erg beseerde wild reeds van kant gemaak.
Volgens Janine Byleveld, Agri Noordkaap bedryfsbestuurder van natuurlike hulpbronne, het die brande reeds Saterdag (25/09) suid en wes van Kimberley ontstaan. Dit het in twee brande ontaard.
“Ons verwag dat die Mosu-Lodge brand in ’n vuurstorm ontaard. Die Ritchie-brand gaan hopelik teen die Rietrivier doodloop,” sê sy.
“Die Oranje Karoo-, Diamantveld- en Douglas boere-unies koördineer die brandbestryding in samewerking met boere van Jacobsdal in die Vrystaat. Intussen is ek besig om met die Frances Baard-distrikmunisipaliteit en die provinsiale regering te onderhandel om lugondersteuning te kry om die brande te probeer blus.”
Brandslaners en vrywilligers op sosiale mediagroepe het gepleit vir water om die brande te blus, asook water en kos vir moeë brandslaners.
Mense het ook geld in Agri Noord-Kaap vir brandstof, kos en water en ‘n vliegtuigmaatskappy se bankrekening betaal om ’n vliegtuig te huur om die vlamme te probeer blus.