Die Verkiesingskommissie (OVK) in die Noord-Kaap sê hy het met vorige verkiesings en oor die jare heen geleer hoe om die grootste provinsie se lang afstande en swak selfoonseine die hoof te bied.
Bonolo Modise, provinsiale verkiesingsbeampte, sê hulle het baie ondervinding opgedoen en dat lang afstande hulle nie kwel nie.
“Ons beplan lank vooruit wat ons eerste voor ’n verkiesing moet doen. Een daarvan is om die verkiesingsmateriaal eerste by die verste stempunte uit te kry. Twee van die verste stempunte is by die Mata Mata- en Nossob-kamp in die Kgalagadi-oorgrenspark. Dit is meer as 200 km van die naaste subkantoor af.”
Die betrokke stempunte het ook ’n klein aantal kiesers – minder as 50 mense – wat meesal parkpersoneel en hul gesinslede insluit.
“Ons personeel moet verseker dat hulle al die materiaal en toerusting saamneem, want hulle wil nie daar aankom en ontdek iets makeer nie. Daarom kry dié stemlokale eerste voorkeur in ons beplanning.
“Benewens dié afstande wat meesal op grondpad afgelê word, is daar ook ’n spoedbeperking in die park. Voertuie mag net teen ’n sekere spoed ry, andersins kan amptenare met die gereg of ontstoke diere te doen kry,” sê Modise.
Ander kleiner stemlokale is op plase geleë waar plaaswerkers en boere stem. Nog ’n afgeleë stempunt is sowat 180 km vanaf die kantoor in Groblershoop. ’n Ander afgeleë stempunt is by Heuningvlei in die John Taolo Gaetsewe-distrik.
Hy sê selfoonseine is op sekere plekke swak, maar hulle is in gesprek met diensverskaffers om te verseker die opvangs is voldoende.
“Ons personeel is al gewoond om net na ’n ander plek te loop of ry om beter seine te soek om ’n oproep te maak of boodskappe te stuur.”
Modise sê die verkiesing se eerste twee dae het relatief glad in die provinsie verloop.


