Kimberley Girls' High School
Met groot glimlagte hou Tlamelo Megalanyane, Annebelle January en Danielle Munnich, leerders van die Kimberley Girls’ High School, hul matriekuitslae vas. FOTO: Helena Barnard

Soos die vorige jaar is die Noord-Kaap die provinsie in die land wat die grootste verbetering in sy matriekuitslae getoon het. Boonop het dié provinsie sy posisie as die een met die laagste slaagsyfer agtergelaat en tot in die sesde posisie van nege geklim.

Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, het Maandagaand 12 Januarie die uitslae van 2025 se nasionale seniorsertifikaateksamen bekendgemaak.

Hiertydens is aangekondig dat KwaZulu-Natal se matrikulante die beste presteer het en ‘n slaagsyfer van 90,6% behaal het. Vrystaat is in die tweede plek met 89,3%; Gauteng derde (89,1%); gevolg deur Noordwes (88,5%); Wes-Kaap (88,2%); Noord-Kaap (87,8%); Mpumalanga (86,5%); Limpopo (86,1%) en Oos-Kaap (84,2%).

Matrikulante HS Diamantveld 2025
Ná die matriekuitslae wink jare van tersiêre studies, asook diens in die weermag of polisie vir dié manne van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley. Van links is Lourich Vorster, Cleon van Wyk, Heinz Hauptfleisch, Kyle Adonis, De Wet Heunis en Michael Kieth. FOTO: Helena Barnard

Gwarube het ook bekendgemaak dat die nasionale slaagsyfer van 88% die hoogste is wat nog ooit in die land behaal is.

Soos vorige jare het kleiner skole in die Noord-Kaap uitgeblink. Die Hoërskool Douglas en die Hoërskool Hopetown het vir die vyfde jaar agtereenvolgend ‘n 100%-slaagsyfer behaal.

Van die vyf distrikte in die Noord-Kaap het Namakwa die beste presteer (90,5%), gevolg deur ZF Mcgawu (90,1%), Pixley Ka Seme (89,3%), John Taolo Gaetsewe (87%) en Frances Baard (86,3%).

Ander skole in die provinsie wat ook ‘n 100%-slaagsyfer behaal het, is die Hoërskool Vaalharts, Re Tlameleng Spesiale Skool, Sediba Academy, Hoërskool Calvinia, St Anna-privaatskool, Hoërskool Enoch Mthetho, Hoërskool Prieska, Hoërskool Kenhardt, asook die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas.

Van die Noord-Kaapse skole wat groot verbetering in 2025 se uitslae teenoor 2024 se uitslae behaal het, is Hoërskool Homevale by Kimberley (van 46,2% tot 86,7%), Hotazel Gekomineerde Skool (van 63,8% tot 93,9%), St Anna-privaatskool (van 57,1% tot 100%), Hoërskool Enoch Mthetho (van 60% tot 100%), Hoërskool Phakamisani (van 49,1% tot 82,6%), asook Noupoort Gekombineerde Skool (van 66,7% tot 95,6%).

Dié 2025-matrikulante van die Kimberley Girls’ High School is verlig dat hul skooljare verby is, die matriekeksamen agter die rug, en die toekoms wink. Van links is, voor: Khumo Engelbrecht en Kgomotso Mosimanewakgomo; agter: Kenisha Morris, Katlego Pieters en Kagoentle Seothaeng. FOTO: Helena Barnard

‘Prestasies beklemtoon veerkragtigheid’

In sy kommentaar wens Nazley Sharif, DA LP en woordvoerder van basiese onderwys, veral die leerders van geen-geld skole geluk wat ongeag sosio-ekonomiese probleme, asook persoonlike en strukturele uitdagings, hul matriek voltooi het.

“Hul prestasies beklemtoon die veerkragtigheid van Suid-Afrika se jongmense en die belangrikheid daarvan om leerdergeleenthede in elke stadium van die skoolstelsel te beskerm,” sê Sharif.

LEES OOK: Historic 88% pass rate marks best-ever matric results for South Africa

In sy kommentaar oor die uitslae het dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van onderwys, na die toespraak van die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, verwys. Gwarube het op ‘n holistiese benadering tot onderwys klem gelê, soos die uitgebreide gebruik van moedertaalonderrig en verligting van onderwysers se administratiewe las.

“Die VF Plus onderskryf hierdie benadering, wat matriekuitslae as die eindpunt van ‘n vormingsproses benader, eerder as ‘n geïsoleerde mikpunt. Vir die meeste Suid-Afrikaners is die nasionale seniorsertifikaat, of matriek soos dit bekend staan, die grondslag waarop hulle ‘n loopbaan bou,” sê Boshoff.

“Die tragiese werklikheid is egter dat ‘n groot aantal suksesvolle matrikulante nie sukses behaal wanneer hulle werk soek nie. Dit dui op ‘n onaanvaarbare gaping tussen die wêrelde binne en buite die skoolterrein.

“Dit beteken allermins dat matriek onbelangrik is. Dit is juis ‘n aanduiding dat die leerder die deursettingsvermoë het wat verdere sukses moontlik maak. Daarom is dit ook verblydend dat die deursetsyfer (graad een-leerders wat tot by matriek vorder) tot 84% toegeneem het.

“Die VF Plus wil werkgewers aanmoedig om jong mense die geleentheid te gee om hulself te bewys,” het Boshoff ook gesê.

Hoërskool Noord-Kaap
Matrikulante van 2025 by die Hoërskool Noord-Kaap in Kimberley om hul matriekuitslae te ontvang. Van links is Ryan Abrahams, Nazneen Alexander, Tayla Harmse, Carlé Heroldt-Greenan, Joshua Willemse, Chanél Linters en Gavandré Eksteen. FOTO: Helena Barnard

AfriForum meen die matriekuitslae skep ‘n onakkurate beeld van die ware toedrag van sake in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel, waar soveel leerders nooit hul skoolloopbaan voltooi nie.

“Nagenoeg 1,2 miljoen leerders het in 2014 hul skoolloopbaan in graad 1 begin. Hiervan het slegs 778 000, oftewel nagenoeg 65% van leerders, teen 2025 tot matriek gevorder. Die onderwysstelsel het dus sowat 422 000 leerders lank voor graad 12 reeds in die steek gelaat,” sê Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum.

Priscilla Isaacs, DA-LPW en  Noord-Kaapse provinsiale woordvoerder oor onderwys, wens in haar kommentaar die Hoërskool Enoch Mthetho in Noupoort and Hoërskool Kenhardt geluk.

“Hierdie twee skole word as kwintiel twee skole beskou, wat boekdele spreek van die verarmde omstandighede van hul gemeenskappe. Hulle is egter deel van die tien Noord-Kaapse skole wat slaagsyfers van 100% in 2025 aangeteken het. Dit bevestig dat leerlinge in laer kwintiele met die regte bystand en ondersteuning akademiese sukses kan behaal.

“Dit is voorwaar ‘n prestasie om die grootste provinsiale verbetering aan te teken te midde van die finansiële chaos wat in die vorige akademiese jaar losgebars het. Skoolgemeenskappe moes uiterste finansiële druk in 2025 trotseer omdat die Noord-Kaapse onderwysdepartement versuim het om gelde betyds en ten volle oor te betaal. Ons sal voortgaan om die provinsiale departement aanspreeklik te hou vir geldelike steun aan skole sodat ons kan voortgaan om verbetering in die Noord-Kaap te sien,” sê Isaacs.

  • Dinsdag teen spertyd is die toppresteerders in die Noord-Kaap tydens ‘n geselligheid in Kimberley aangewys en vereer. ‘n Berig oor die toppresteerders sal volg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article