Met stemdag eersdaags op Woensdag 29 Mei, is daar bykans geen lamppaal wat nié met verkiesingsplakkate behang is nie, soos hierdie een in Memorialweg, Kimberley.

Foto: Helena Barnard

Die ANC gaan glo goed vaar in die komende provinsiale verkiesing in die Noord-Kaap, met die EFF wat die grootste opposisieparty sal wees, en die DA kort op sy hakke.

Dit is die gevolgtrekking van ’n studie onder kiesers wat deur Ivan Steenkamp, ’n konsultant van Evers Excellence, as deel van sy doktorale studie in sakeleierskap gedoen is. Steenkamp het die uitkomste van sy studie onlangs by ’n vergadering in Kimberley bekend gemaak.

Uit die respondente het 62,7% gesê hulle sal vir die ANC in die provinsiale verkiesing stem, 10,9% vir die EFF, 6,5% vir die DA (’n daling van 2%) en 4,3% vir die PA.

Sowat 7,3 % het nog nie besluit nie, en 5% gaan nie stem nie.

Uit die syfers blyk dit dat die ANC se steun met 2% van die 2019-verkiesing kan toeneem.

Die oogmerke was om kiesers se indrukke oor die ANC en kwessies in die Noord-Kaap en die land te bepaal.

Kiesers se belangeloosheid het afgeneem.

Sowat 16% het in 2019 aangedui hulle gaan nie stem nie, terwyl dit nou tot 6% afgeneem het.

Tog het 8% nog nie besluit vir wie om te stem nie.

Die redes hoekom hulle vir die partye stem is grootliks vanweë hul partylojaliteit, leierskap en jeug-indiensneming. Sowat 68,5% van die respondente keur dr. Zamani Saul as premier goed, en 22% nie.

Die opname is tussen 15 April en 30 April aanlyn en met persoonlike opnames onder net minder as 1 000 stemgeregtigdes in al vyf distrikte gedoen, met die meeste mense tussen 25 en 50 jaar oud.

Die deelnemers was geletterd en opgelei, en proporsioneel oor rassegroepe verdeel, met bykans dieselfde aantal mans en vroue.

Diensleweringkwessies het hulle die meeste gekwel, met werkloosheid as die grootste bekommernis.

Ander kwellings was beurtkrag, watertekorte, korrupsie en swak infrastruktuur.

Die studie is deur die Ewing Marion Kauffman-stigting befonds.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article