’n Vriendin praat altyd van “ ’n opsionele ekstra”.

Vra jy haar vir die betekenis agter hierdie sinsnede, kry jy ’n interessante verduideliking.

Die afgelope tyd moet ek meer en meer met haar saamstem. Op die paaie word talle ongelukke deur die gebrek aan flikkerligte veroorsaak. Dit is waar my vriendin se afleiding sy oorsprong het.

“Nie alle motors kom met flikkerligte uit nie,” skerts sy.

“Dit is iets waarvoor jy die vervaardiger of motorhandelaar moet vra. Jy weet – een van daardie opsionele ekstras waarvoor jy moet betaal.”

Die meeste mense is waarskynlik ingedagte en vergeet om hul flikkerligte te gebruik. Ander mense is dalk doenig met hul selfoon of besig met hul passasiers. Iewers word hul aandag afgelei sodat hulle nie nog op die flikkerlig ook kan konsentreer nie. Dalk is mense net nie in die gewoonte om die flikkerligte te gebruik nie.

Op die platteland gebruik mense nie flikkerligte nie omdat hulle baie keer voel mense weet waarheen hulle gaan of waar hulle bly.

Baie ongelukke kan vermy word as daar net van hierdie noodsaaklike deel van die voertuig gebruik gemaak word. Mense besef waarskynlik nie hoeveel verwarring hulle veroorsaak deur te draai of van baan te verwissel en nie medepadgebruikers daarop voor te berei nie.

Dalk is my vriendin reg. Wat as die flikkerligte ’n opsionele ekstra is?

You need to be Logged In to leave a comment.