Die minister van verdediging moet meer as R1 miljoen aan rente en ander koste aan vyf boere in die Noord-Kaap opdok, ingevolge ’n hofbevel in die hooggeregshof in Kimberley.
Die minister het reeds R13 028 370 opgedok aan skadevergoeding weens wegholbrande wat die weermag op die boere se plase veroorsaak het, asook R13 074 259 aan rente daarop.
Regter Cecile Williams het vroeër in Junie ’n aansoek van die minister vir die herroep van ’n beslagleggingsbevel op van die weermagbates in Pretoria vir R1 048 540 met koste van die hand gewys.
Dié jongste beslissing volg op eise vir brandskade in September 2010 op plase aan die suidoostelike kant van die Lohatlha-leërgevegsopleidingsentrum in die Noord-Kaap. Die brande het op Lohathla ontstaan.
Luidens ’n skikking wat op 8 November 2019 ’n hofbevel gemaak is, moes die weermag binne 30 dae die skadevergoeding aan Peter Hugo, Hottie Vermeulen, Japie Steyn, Lourens Bothma en Maria Lubbe betaal.
Verder moes die weermag ook 12% rente per jaar sedert April 2011, toe die dagvaarding vir skadevergoeding uitgereik is, betaal.
Op 19 Desember 2019 (11 dae laat) het die weermag die R13 028 370 betaal en op 27 Februarie 2020 die R13 074 259 rente op die bedrag tot 19 Desember 2019.
Die boere het toe ’n dagvaarding laat uitreik vir beslaglegging vir die bykomende R1 miljoen rente wat hulle gemeen het nog uitstaande is.
In sy aansoek het die weermag gemeen hoewel hy die rentebetaling eers op 27 Februarie 2020 gedoen het, hoef hy ingevolge die hofbevel net rente tot op 19 Desember 2019 te betaal.
Williams het in haar uitspraak gesê dié vertolking van die hofbevel kan tot ’n onbillike situasie lei waarin die weermag nie verantwoordelik is vir betaling van rente ná ’n laat betaling van rente nie.
Adv. J. Olivier het in opdrag van Donnie Reitz van Oosthuizen Sweetnam en Reitz-prokureurs vir die boere opgetree. Adv. A.D. Olivier het in opdrag van die staatsprokureur vir die minister opgetree.
- Luidens ’n vroeëre berig moes die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) ook eise van miljoene rande aan boere uitbetaal weens brande wat in 2009 op Lohatlha tydens weermagoefeninge met skerp ammunisie ontstaan het en na die aangrensende plase versprei het.

