Die gat in die Boitumelong-township by Bloemhof waarin ’n tweede kind onlangs verdrink het.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

’n Tiener het verlede week die tweede kind geword wat verdrink in ’n gat wat ’n kontrakteur glo al ’n paar jaar gelede naby Bloemhof gegrawe het.

Inwoners sê die gat is so drie jaar gelede gegrawe en nooit toegegooi nie. Dit is vol water.

Frans Thiko (16) het op Woensdagmiddag 8 Junie met ’n bal gespeel toe hy op die sandwal by die gat in die Boitumelong-township gegly en daarin geval het.

Martha van Eck, sy tante, sê hy kon nie swem nie. Sy neef, wat saam met hom daar gespeel het, het hulp ontbied en geskree: “My broer is in die gat!”

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê polisieduikers het die seun se lyk op die bodem van die gat gevind. Dit is sowat 3 m diep.

’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen. Myburgh sê ’n negejarige meisie het in 2020 in dieselfde gat geval en verdrink. Sebang Motlhabi, burgemeester van die Lekwa-Teemane-munisipaliteit, sê die plaaslike munisipaliteit het nie die kontrakteur aangestel wat die gat ge­grawe het nie.

“Dit was ’n projek van die departement van samewerkende regering, menslike huisvesting en tradisionele sake. Die gat is gegrawe vir die aanlê van water- en riooldienste.”

Thuli Mbonani, munisipale bestuurder, voeg by die kontrakteur moes die gemeenskap ingelig hou oor die vordering en ook die gevare vir veral kinders.

“Ons sal die gebeure ondersoek en met die provinsiale departement van menslike huisvesting kommunikeer.”

Mbonani het namens die munisipaliteit meegevoel met Frans se familie betuig en sê hulle sal met hulle skakel oor die begrafnisreëlings. “Ons is diep geraak deur wat gebeur het.”

Die departement van samewerkende regering het nie ’n navraag beantwoord nie en dit na die munisipaliteit terugverwys.

Samuel Senwedi skryf op Facebook die projek waarvoor die gat gegrawe is, duur nou al jare.

“Kyk nou wat het gebeur, dis baie hartseer.”


Susan Cilliers

You need to be Logged In to leave a comment.