Die Noord-Kaap het die beste verbetering van alle provinsies in die 2021-matriekuitslae van die nasionale senior sertifikaateksamen (NSS) getoon. 12 726 matrikulante het die eksamen geskryf.
Die slaagsyfer van 71,4%, wat ’n verbetering van 5,4% op 2020 se uitslae is, plaas die Noord-Kaap egter in die tweede laaste plek van al die provinsies.
“Hoewel dit ’n verbetering is, is dit steeds ver onder die nasionale gemiddelde slaagsyfer,” sê dr. Zamani Saul, die premier van die Noord-Kaap. Hy het Vrydag (21/01) die hoofrede tydens die matrikulant-eerbewysseremonie in Taberna Dei in Kimberley gelewer.
Saul sê daar moet gestreef word om bo die nasionale gemiddelde slaagsyfer te presteer.
Tydens die seremonie is eerbewyse aan akademiese topskole oorhandig, en die 20 topmatrikulante van 2021 is aangewys.
“Toe ander kinders in die winter hul koppe onder die komberse toegedraai het, het dié kinders gesê: Laat ons aangaan.” So het eerwaarde Dez Fransman, wat die skriflesing hanteer het, opgemerk.
Die LUR van onderwys, Zolile Monakali, het gesê 2021 se matrikulante is nie net deur die eksamens getoets nie, maar ook deur die Covid-19-pandemie.
“Die matrieks van 2021 het veerkragtigheid (resilience) getoon,” sê Monakali.
Die Hoërskool Diamantveld in Kimberley het die prys as die akademiese topskool ontvang, en die Emmanuel Sekondêre Skool in Homevale, Kimberley, die prys as die akademiese topskool vir kwintiel 1 tot 3 skole.
Die algehele drie topskole in die Noord-Kaap is Diamantveld in die eerste plek, met Kimberley Girls’ High School tweede en die Hoërskool Douglas derde.
Die topskole in die vyf distrikte in volgorde van hoogste na laagste slaagsyfer is:
Namakwa (81,2%):
1. Hoërskool Namakwaland, Springbok
2. Hoërskool Concordia, Springbok
3. Hoërskool Calvinia
ZF Mgcawu (79,8%):
1. Hoërskool Upington
2. Hoërskool Duineveld, Upington
3. Hoërskool Martin Oosthuizen, Kakamas
Frances Baard (69,6%):
1. Hoërskool Diamantveld
2. Kimberley Girls’ High School
3. Hoërskool Noord-Kaap, Kimberley
Pixley ka Seme (68,7%):
1. Hoërskool Douglas
2. Hoërskool Hopetown
3. Hoërskool Prieska
John Taolo Gaetsewe (67,2%):
1. Hoërskool Kalahari, Kuruman
2. Sediba Academy, Kuruman
3. Hotazel Gekomineerde Skool
In die NSS het die Vrystaat die beste presteer met ’n 85,7%-slaagsyfer (0,6% beter as in 2020); Gauteng (82,8%, vermindering van 1,0%); Wes-Kaap (81,2%, verbeter met 1,3%); Noordwes (78,2%, verbeter met 2,0%); KwaZulu-Natal (76,8%, verminder met 0,8%); Mpumalanga (73,6%, verminder met 0,1%); Oos-Kaap (73,0%, verbeter met 4,9%) en Limpopo (66,7%, verminder met 1,5%).