Die bekroonde Noord-Kaapse skrywer Lynthia Julius is die nuutste ontvanger van die gesogte Jan Rabie-en-Marjorie Wallace-skrywersbeurs van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

Die beurs beloop R500 000 en word gefinansier deur ’n erflating van die ontslape kunstenaar Marjorie Wallace.

Die doel is om ’n belowende of gevestigde skrywer in staat te stel om vir ’n jaar lank te fokus op ’n projek in skeppende skryfwerk in Afrikaans, wat op publikasie gerig moet wees.

Lynthia Julius

“As ’n mens kyk na wie al die beurs ontvang het, dink jy jy kán nie die mas opkom met sulke groot name nie. En natuurlik skop daai selftwyfel in terwyl jy deur die aansoekproses gaan.

“Gaan jy dit maak, kan jy hierdie beurs kry? Ek het toe maar net gesê, hoor hierso, jy moet nou jou hart vasmaak en aansoek doen,” sê Julius, wat nou vol selfvertroue is dat sy nie sal teleurstel nie.

Dit is die grootste beurs ter ondersteuning van kreatiewe skrywers in Suid-Afrika. Vorige ontvangers sluit in André P. Brink, Willem Anker, SJ Naudé, Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal en Valda Jansen.

Dit word toegeken in die gees van Wallace se werk en strewe ten opsigte van Afrikaans as die taal van ’n breë gemeenskap.

Julius, ’n boorling van Springbok, se voorgestelde roman speel af in die 1900’s en gaan oor ’n Nama-medisyneman deur wie se roerende verhaal sy ’n ontstellende maatskaplik-politieke prentjie skets van Namakwaland en sy mense binne die Suid-Afrikaanse konteks gedurende daardie tyd.

“En hierdie man is ’n man wat lief is vir die Noord-Kaap, wat water drink uit die Oranjerivier. Ek sal my heel beste gee om die beste roman moontlik te lewer,” sê Julius.

Namakwalandse Afrikaans
Die storie sal in Namakwalandse Afrikaans geskryf word waar Nama-woorde nie net ’n belangrike deel vorm van die Afrikaans wat gedurende die 1900’s in die Noord-Kaap gepraat is nie, maar wat steeds die taal inkleur.

Sy vertel terwyl sy grootgeword het, het hulle “nóóit óóit” literatuur oor die Noord-Kaap op skool behandel nie.

“Iemand het my een keer in ’n onderhoud gevra of ek nog so koorsagtig aan Nama-wees vasklou, en ek het gedink koorsagtig is darem nie die woord nie. Ek het net vir myself gesê dat as daar literatuur is wat ek nie sien nie, of wat ek mis, dan moet ek dit self skryf.

“Ek het geweet maar wie is ek en wat is my herkoms. Ek kom van Namakwaland af, ek hét Nama-bloed, en as ek dan nou nie die stories gaan begin vertel nie, wie gaan dit vertel?” vra sy.

In haar aansoek het sy bronne voorgestel wat sy moet raadpleeg om te weet wat in Namakwaland aan’t gebeur was in die 1900’s, want hoewel sy by ’n “baie wyse man geleer het dat jy nie feite in die pad moet laat staan van ’n goeie storie nie”, kan die omgewing en wat destyds gebeur het nie losstaan van wat in die boek gebeur nie.

“Omdat dit ’n medisyneman is, moet ek die plante ken. Die mense bring veral kinders na hom toe, so ek sal met die ou mense moet praat oor wat gee mens ’n baba in wat koliek het, hoe word hy gesmeer? So hier is ’n groot element van menswees wat deel van die projek gaan wees,” vertel Julius.

Julius se bekroonde debuutdigbundel, Uit die kroes, roep ook die Noord-Kaapse leefwêreld op met verrykende Nama-woorde, asook die geskiedenis van Suid-Afrika en die rol van die bruin vrou daarin.

Een van die komiteelede het gesê Julius se roman sal vir alle sprekers van die verskillende variëteite van Afrikaans tot groot voordeel wees en dat die toekenning van die beurs aan haar volkome aan hul doelwitte voldoen.

You need to be Logged In to leave a comment.