Onderwysers oor die Noord-Kaap heen was Maandag slaggereed om gr. 7- en gr. 12-leerlinge met termometers en handreinigers in die hand, ná 11 weke terug te verwelkom.
In die provinsie het 19 uit 562 skole nie Maandagoggend hul deure saam met die ander skole oopgemaak nie.
Volgens Lehuma Ntuane, provinsiale woordvoerder van die onderwysdepartement, het hulle dié skole se deure toegehou weens die stygende aantal positiewe gevalle in die Umsobomvu- en Renosterberg-munisipaliteit, waar dié skole geleë is.
By die Hoërskool Kathu het die skool se veiligheidskomitee ’n veiligheidspan op die been gebring, wat soggens die leerlinge skandeer.
Linda Holm, waarnemende skoolhoof van die Hoërskool Kathu, sê die gr. 12’s was baie bly om terug te wees by die skool. “Hulle het al voor 07:00 by die skool opgedaag.”
Plakkate wat die skool se protokol duidelik uiteensit en merkers om die sosiale afstand van 1,5 m te handhaaf, is op die terrein aangebring.
Areas wat gereeld besoek word, soos klasse, kantore, ontvangs, toilette en meer, word ook gereeld ontsmet, sê Holm.
Marietta Liebenberg, skoolhoof van die Laerskool Lime Acres, sê die skool se personeel sien regtig uit na die res van die kwartaal en Limies se span is 100% gereed.
Die gr. 7’s is in vyf groepe van 19 leerlinge elk verdeel en het die skoolterrein by verskillende hekke betree.
Leerlinge het heeldag in dieselfde klas gebly en onderwysers het roteer.
’n Onderwyser per klas is aangewys om pouse saam met die leerlinge tyd te bestee, en seker te maak dat hulle hul afstand van mekaar hou.
Sommige van die leerlinge was wel bang vir die virus, maar bekwame onderwysers het hulle gou gerus gestel, sê Liebenberg.
André Mouton, hoof van die Hoërskool Martin Oosthuizen (HMO) in Kakamas, sê dié skool is gerat, en het relatief min uitdagings.
“Dis lekker om weer ’n mate van normaliteit te hê.”
Hy sê HMO is ’n klein skool met ’n redelike groot personeelkorps, wat die sifting- en skanderingsproses vinnig en glad laat verloop.
Hy sê die duidelike riglyne wat Maandagoggend aan leerlinge deurgegee is, het die angstigheid verminder.
Hoewel die staat baie middels verskaf, wil die skool die ekstra myl loop om sy personeel en leerlinge te beveilig.