NK-skildery besiel musiek in NY

’n Skildery uit die Noord-Kaap het ‘n wêreldbekende komponis en pianis van New York musiek laat hoor.


’n Skildery wat die oog ritmies laat dans van een telefoonpaal met ’n versamelvoëlnes na ’n volgende tot waar dit in ’n dynserige Noord-Kaapse horison verdwyn, het ’n wêreldbekende komponis en pianis van New York musiek laat hoor. 

Dié skildery van Karen Knop van Kakamas is Woensdag (16/03) een van die “eregaste” op ’n musiek­konsert van Margin Alexander. Alexander, ’n 34-jarige komponis, tree ook wêreldwyd as kontemporêre pianis op. Hy praat vyf tale vlot en sy werk word as sielvol, energiek en fantasie beskryf. 

Nadat Alexander die skildery Where We Live… op ’n Instagram-blad raakgesien het, het hy vir Knop ’n boodskap gestuur.

“I am fascinated by this work of yours. This evokes so much music out of me and I would love to invite you to be part of my virtual New York music exhibition concert on March 13th in NYC.”
Margin Alexander in sy boodskap aan Karen Knop

Weens hewige sneeu in Noord-Amerika is die konsert tot Woensdag toe uitgestel. 

“Ek was skoon uit die veld geslaan en kon ure lank nie ophou glimlag nie,” sê Knop oor dié boodskap. “Dit is vir my ’n baie groot oomblik. Ek skilder met my hart, so as iemand dit ‘hoor’ en ‘voel’, is dit vir my die hoogste eer en prys. Dat hy met musiek wil vertel wat my skildery in hom roer, is vir my fenomenaal.”

Knop het dié skildery vir die tydskrif The South African Artist se landskapkompetisie ingeskryf. Dit het die tweede plek in die afdeling vir akrielverf behaal. Dit was die eerste kunskompetisie waaraan sy deelgeneem het.

Die skildery word saam met ander finaliste in The Gallery Lifestyle in Ballito, KwaZulu-Natal, uitgestal. Boonop is dit op die galery se Instagram-blad. Dit is hier waar Alexander dit raakgesien het. Dié kunswerk het hom so begeester dat hy dit gekies het as een van die kunswerke waarvoor hy elk ’n musiekstuk gekomponeer het. 

Een van Karen Knop se skilderye het Margin Alexander (foto) so begeester dat hy ’n musiekstuk daarvoor komponeer het. Die konsert sou Woensdag (16/03) in New York plaas­vind.

In Alexander se konsert The Many Music Faces of Art word die kunswerke in die konsertsaal geprojekteer. Voor die uitvoering van elke musiekstuk word die spesifieke kunstenaar aan die gehoor bekend gestel en meer oor die kunswerk vertel – inligting wat Alexander vooraf by die kunstenaars gekry het. 

Die konsert in New York, wat ook aanlyn uitgesaai word, sal deur onder andere kurators en belanghebbendes van kunsgalerye oor Amerika heen bygewoon word. Boonop word die kunswerke in Manhattan by ’n buitelug-lokaal geprojekteer sodat nog meer mense dit kan beleef.

Volgens Alexander se bestuurder is die vermenging van kunswerke en musiek die konsert se hoofdoel. Die bestuurder het aan Knop geskryf dat Alexander se bekoring met haar skildery onmiddellik was en dat hy werklik deur haar kunswerke en haar styl betower is. 

Die hoofversamelvoëlnes op Where We Live… is geïnspireer deur ’n foto wat Knop op ’n dag met sononder op pad na Upington geneem het. 

“Die res kom uit inspirasie deur die oopte van die Noord-Kaap wat so goed vir my siel is,” sê sy. “Dit is waar ek voel alle stres vloei uit my uit.”

Ná Margin Alexander se vrae aan Karen Knop het sy aan hom geskryf dat sy deur die dorre landskap van die Noord-Kaap begeester word. Sy verwonder haar telkens aan hoe bome en voëls in die uiterste temperature aanpas en, teen alle verwagting in, gedy. Die versamel­voëlneste in die skildery is ook uniek aan dié streek.

Knop, wat geen formele kunsopleiding het nie, het in Julie 2020 begin skilder. Haar skilderye van kameeldoringbome in wit en swart het gou bekendheid verwerf. Sedertdien het sy talle uitstallings in kunsgalerye en padstalle gehou. 

“Wanneer ek voor die esel staan met ’n kwas in die hand, voel dit asof ek daarvoor gebore is,” het sy in Oktober aan NoordkaapBulletin vertel. Knop werk aan tot tien skilderye op ’n slag om haar oë “vars te hou”.

Op Alexander se webwerf skryf hy: “My life mission is to get my inner musical fountain to pour all over people’s hearts.”

Die vermenging van die twee kunstenaars se talent behoort presies dit te doen. 

Karen Knop, wie se skildery ’n wêreldbekende pianis en komponis musiek laat hoor het.
Foto

‘n Skermgreep van die boodskap wat Margin Alexander aan Karen Knop gestuur het.

You need to be Logged In to leave a comment.