Die Noorweegse maatskappy Scatec gaan binnekort nog ’n sonkragaanleg by Kenhardt oprig.
’n Miljoen sonpanele op 1 100 ha, wat oor ’n lengte van meer as 10 km strek, sal 150 MW se krag kan opwek.
Volgens Jan Fourie, Scatec se algemene bestuurder in Afrika suid van die Sahara, is hier oorvloedige sonlig en wind om hernubare energie op te wek.
Hy sê groenkragaanlegte kan vinnig opgerig word en is kostedoeltreffend, sodat dit met kragopwekking met fossielbrandstowwe kan meeding.
Beleggers is volgens hom gretig om in groenkragprojekte te belê, en danksy die ontwikkeling van batterytegnologie kan sonkragplase nou genoeg krag opberg sodat elektrisiteit deurlopend beskikbaar is.
“Dit bewys dat sonenergie nie net by tye – wanneer die son skyn – beskikbaar is nie,” sê Fourie.
Van die modernste tegnologie sal volgens hom gebruik word om met behulp van litiumioonbatterye 1,1 gigawattuur se krag te stoor. Die projek sal in 2023 voltooi word.
Scatec, wat op vier kontinente hernubare energie opwek, is sedert 2010 in Suid-Afrika bedrywig en het die land se eerste volwaardige grootmaat-sonkragaanleg by Kalkbult gebou. Hy het ook onlangs sy aanleg by Upington voltooi, waar 258 MW opgewek word. Scatec besit ses sonkragaanlegte, wat hom die grootste verskaffer van sonenergie in die land maak. Hy kan tans 448 MW krag hier opwek.
Suid-Afrika se mikpunt is om teen 2030 25% van sy krag deur hernubare bronne op te wek.