Die Franse maatskappy EDF Renewables is die ontwikkelaar van die eerste drie groenkragprojekte van sowat R11 miljard wat deel is van die regering se vyfde bodronde van sy groenkragprogram.
Die kragkoopkontrakte van 420 MW is Donderdag (22/09) met Eskom onderteken.
Twee van die liggings is naby Noupoort in die Karoo, binne die grense van die Noord-Kaap, en die derde een naby Middelburg in die Oos-Kaap. Bouwerk aan die windplase kan nou begin en behoort na verwagting 24 maande te duur, met die eerste elektrisiteit wat teen einde 2024 aan die netwerk gekoppel sal wees.
Volgens die departement van minerale bronne en energie is R7,8 miljard van die totale belegging van R11 miljard met skuld finansier.

