Dit is duidelik dat die misdaadgolf wat oor Suid-Afrika spoel, ook die Noord-Kaap tref, en nog nooit het inwoners so kwesbaar vir misdaad gevoel soos nou nie, meen die VF Plus en die DA.

Bheki Cele, minister van polisie, het op 23 November die misdaadsyfers vir die tweede kwartaal van 2022-’23 bekend gemaak.

“Die enigste groeperings misdaad wat afgeneem het, is huisrooftogte en diefstal uit motors,” sê dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse leier van die VF Plus.

Hy sê dié afnames­ kan eerder aan die groter paraatheid van gewone mense toegeskryf word as aan goeie polisiëring.

“Bykans alle ander groeperings misdaad het vorige rekords vir Julie tot September oortref.

“Dit beteken dat ’n Noord-Kapenaar se kans om beroof, vermoor, verkrag of aangerand te word groter is as in enige vorige jaar.”

Boshoff sê die provinsie se syfers mag vir die inwoners van ander provinsies laag lyk, maar dit moet in die lig van sy klein bevolking gesien word.

Hy sê wetstoepassing moet verskerp word, maar sonder ekonomiese groei en groter indiensneming sal die misdaadprobleem net verder buite beheer raak.

Die DA sê die provinsie het in die laaste paar maande die toneel geword van ’n magdom geweld­dadige en skokkende misdade.

Ofentse Mokae, DA-woordvoerder van vervoer, veiligheid en skakeling in die provinsie, noem die dood van ’n jong ma in Calvinia; ’n plaasmoord by Olifantshoek; die verbyry-skietery op ’n minderjarige in Kimberley; die ontvoering van en moord op ’n vyfjarige in Kakamas; die dood van ’n 93-jarige inwoner van Kuruman ná ’n aanranding by ’n winkelsentrum; die verkragting van en moord op ’n lid van die LGBTQIA+-gemeenskap wat in Roodepan aan die brand gesteek is; en ’n gewapende rooftog by ’n juwelier in Kimberley.

Daar was ’n toename in elke groepering van ernstige misdaad teenoor ’n jaar gelede.

Moord het met 27,2% toegeneem, poging tot moord met 95,2%, seksuele aanranding met 43,6% en gewone roof met 41,9%.

“Misdade waarteen die Noord-Kaap voorheen immuun was, kom toenemend voor.

Ontvoering het met 136,4% toegeneem waarvan een van die gevalle ’n losprys-saak was,” sê Mokae.

Die Kimberley-polisiekantoor is nou onder die top-30 waar die meeste eiendomsmisdade en ernstige misdade deur gemeenskappe aangemeld word.

“Inwoners is nêrens veilig nie en het met ongekende vlakke van misdaad te doen.”

Mokae sê genl.maj. Koli­swa Otola, provinsiale polisie­kommissaris, se pogings om die polisiediens te stabiliseer deur senior poste te vul, word verwelkom, maar die groot persentasie polisievoertuie wat op herstelwerk wag, polisiekantore wat onderbeman is en swak toegeruste polisielede het ’n negatiewe impak.

Hy sê dit is geen wonder dat die polisie magteloos is teen misdadigers nie, en totdat die ernstige gebrek aan leierskap in die polisie hanteer word deur Cele te verwyder, moet die provinsiale regering die veiligheidsituasie hanteer.

Indien dit nie gedoen word nie, gaan bendes en sindikate die Noord-Kaap heeltemal oorneem, maan Mokae.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article