Voortdurende vandalisme by die Marchand-kliniek skep ’n groot probleem vir personeel en gemeenskapslede wat die kliniek besoek.

Foto: Verskaf

Ambulans- en pasiëntvervoerdienste van die Noord-Kaapse departement van gesondheid wat verlede week glo tot stilstand gekom het weens brandstofkaarte wat by vulstasies afgekeur is, is vandeesweek blykbaar hervat.

Volgens Lebogang Majaha, woordvoerder van die LUR van gesondheid, is die brandstofkaarte weens ’n “tegniese haakplek” afgekeur.

“Ons kan bevestig dat die noodmediesedienste nou weer ten volle in werking is en dat ons mediese spanne na alle mediese noodgevalle omsien,” het Majaha Maandag (29/08) gesê. 

Verlede week het dr. Isak Fritz, LPW en DA-woordvoerder van gesondheid, in ’n verklaring gesê dat brandstofkaarte wat by vulstasies afgekeur word, ambulans- en pasiëntvervoerdienste in dele van die provinsie tot stilstand gebring het.  

Volgens die verklaring het die situasie talle pasiënte oor ’n wye streek beïnvloed. So het een van die voertuie wat pasiënte vanaf Namakwaland na Kimberley moes vervoer, by Pofadder omgedraai nadat die brandstofkaart afgekeur is. Siek en bejaarde pasiënte is toe glo voor die Springbok-hospitaal afgelaai om op hul eie terug te keer huis toe. 

Weens die situasie moes ‘n aantal pasiënte boonop hul langverwagte afsprake by spesialiste of behandelingsessies vir ernstige siektes misloop.

“Dit is nie die eerste keer dat afgekeurde petrolkaarte mediese nooddienste in die provinsie op sy knieë bring nie,” sê Fritz.

  • Intussen word die Marcand-kliniek, in die omgewing van Kakamas, deur voortdurende diefstal en vandalisme geraak.  

Omheinings rondom die kliniek word glo gebreek vir toegang tot die perseel, en in die nag word dit ’n “speelplek vir misdadigers”, sê Ralph Cloete, DA-raadslid van die Kai !Garib-munisipaliteit.

Kragkabels word gesny, diefwering gebreek, toerusting beskadig en goedere gesteel. Boonop moet die kliniek gereeld, weens vandalisme of swak munisipale dienslewering, sonder lopende water klaarkom. 

Personeel moet dan emmers water aandra om hul dienste te kan lewer.

Hoewel sake reeds by die polisiekantoor aanhangig gemaak is, is niemand nog aangekeer nie.

Bykomende veiligheidsmaatreëls word dringend bepleit “voordat daar niks van Marchand-kliniek oorbly nie,” sê Cloete.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article