NK-gesondheidsdepartement dalk ambulanse kwyt

Beslaglegging van ambulanse kom dalk


Kimberley.– Die balju kan moontlik binnekort  beslag lê op ambulanse, mediese toerusting en
ander bates van die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement weens agterstallige
skuld.

Dit spruit glo uit agterstallige skuld van R700 000 wat die
departement glo aan ’n voormalige diensverskaffer, Bestor CC, verskuldig is ten
spyte van ’n finale lasbrief vir eksekusie wat reeds op 4 Julie vanjaar
uitgereik is.

Die beslote korporasie is ’n voormalige verskaffer van faks-
en kopiëringsdienste aan die departement van gesondheid.

Onder die 240 bates waarop daar moontlik beslag gelê kan
word tel vier ambulanse, ’n suurstofmajien, verskeie meubelstukke en ander
hospitaaltoerusting soos rekenaars.

Die DA se provinsiale leier Andrew Louw het vroeër die week
in ’n verklaring gesê die ambulanse sal veral gesog wees omdat dit as taxi’s
gebruik kan word.

“Die departement sal dan met lede van die publiek by ’n

veiling moet meeding om hierdie verbeurde toerusting terug
te koop,” het Louw gesê.

Volgens Louw sal dit ‘n bespotting vir die departement van
gesondheid wees indien hy sy vloot, wat reeds skraps is, verloor weens sy eie
nalatigheid.

“Indien die departement nie sy agterstallige skuld betaal
nie kan dit beteken dat dit die departement se hoofkantoor in Kimberley, sowel
as die administratiewe eenheid van Kimberley-hospitaal buite werking gelaat sal
word aangesien die verwydering van toerusting soos rekenaars, drukkers en
meubelstukke ’n wesenlike impak op die hospitaal sal hê.

“Gevolglik sal dit ook die departement se vermoeë om personeel
te kan betaal en om ononderhandelbare hospitaaltoerusting te verkry belemmer en
’n uiters negatiewe impak op diensleweing hê,” meen Louw.

“Dit is tyd dat die departement van gesondheid
verantwoordelik gehou word vir sy klaaglike mislukking om sy kontrakte en
finansies reg te bestuur,” het hy gesê.

Volgens Louw vra die DA sedert 2009 vir ’n interne ondersoek
na die departement se hantering van die kontrak met Bestor CC.

Louw sê die departement het reeds R17 miljoen aan regskostes
bestee wanneer inflasie in ag geneem word.

Lulu Mxekezo, ’n woordvoerder vir die Noord-Kaapse
departement van gesondheid, het gister (2016/07/07) gesê dat die departement
nog wag om deur die regsverteenwoordigers van die betrokke maatskappy met
dokumentasie bedien te word sodat die saak opgelos kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.