Dit blyk uit die Noord-Kaapse premier se provinsiale rede dat gesondheidsdienste bekwaald bly met ’n departement wat jare lank ’n gekwalifiseerde ouditverslag kry en steeds struikel met te min ambulanse en om debiteure binne 30 dae te betaal.
Boonop betaal die departement steeds honderde miljoene rand per jaar van sy begroting aan ’n privaat sekuriteitsdiens wat die onderwerp van ’n strafregtelike bedrogsaak is, terwyl ander departemente reeds interne sekuriteitswagte het.
Dr. Zamani Saul, wat sy rede Donderdag 2 Maart in Calvinia gelewer het, sê die departement probeer om reaksietyd te verbeter en het nog nege ambulanse en tien pasiëntbusse gekoop.
Intussen gaan die Vedanta-myn ’n nuwe onkologie-afdeling by die Springbok-hospitaal bou.
“Die private sektor moet ook bydra, want die staat kan nie meer alles doen nie.”
Danie Coetzee, VF Plus-LW, het in reaksie op die provinsiale rede sy wenkbrou hieroor opgetrek en gesê die stap onderstreep die regering se onvermoë. “Klinieke laat oor die algemeen veel te wense oor, veral in afgeleë nedersettings.”
Harold McGluwa, DA-leier sê die provinsie sit met 69 werkende ambulanse terwyl die behoefte 184 voertuie is.
Die premier se goeie nuus is dat fase twee van die inwerkingstelling van digitale pasiëntlêers reeds by sekere geriewe toegepas word.
Sekere hospitale het ook toegang tot verbeterende rekenaarstelsels en die internet. Digitale inbelsentrums in Upington en Kimberley wat met behulp van Vodacom in werking gestel is, het drastiese verbetering gebring. Voorheen is 3 000 oproepe per maand beantwoord, deesdae is dit 10 000.
Tog sukkel die betrokke departement anders as ander om debiteure binne 30 dae te betaal. Die wagtyd het egter na 46 dae afgeskuif.
Volgens Saul gaan die Nasionale Gesondheidversekering (NGV) in werking gestel word. “Dit is ’n feit. Ons doelwit is om by 50% van geriewe ideale kliniek-status te kry.”
Die departement het vanjaar 6 960 personeellede op kontrak of as tydelike en permanente werkers aangestel.
Die departement van vervoer en veiligheidskakeling het ’n direktoraat ingestel om sekuriteitsdienste aan ander departement te verskaf. Interne wagte is reeds by die betrokke departement, tesourie, premier se kantoor, en departement van landbou, omgewingsake en landelike ontwikkeling aangestel.
Die departement van gesondheid gebruik egter nog die dienste van Defensor-sekuriteit, wat volgens die Nasionale Vervolgingsgesag die kontrak onder verdagte omstandighede gekry het. Dit beloop byna R400 miljoen.
In sy 2021-’22 jaarverslag sê die departement hy het onreëlmatige uitgawes van R684 424 miljoen gehad. Dit benadeel sy vooruitsig op ’n skoon ouditverslag. Die uitgawes spruit ook uit kontrakte wat reeds verstryk het maar maand-tot-maand verleng word. Luidens die verslag probeer die departement dit omkeer en het glo teen 25 Februarie 2022 ’n nuwe sekuriteitstender adverteer.
Maandag 6 Maart verskyn Steven Jonkers, deesdae die adjunk-direkteur-generaal in die premier se kantoor, in die hooggeregshof saam met sy medebeskuldigdes op aanklagte dat vereistes van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies (PFMA) omseil is.
Jonkers, ’n voormalige polisiebeampte, word saam met Gert Renier van Rooyen en Claudius Gerald Peterson, direkteure van Defensor, oor ’n veiligheidkontrak van R384 miljoen aangekla. Jonkers as destydse departementshoof het dit in 2017 aan die maatskappy toegeken.
Die ouditeur-generaal (OG) wys in sy ouditverslag vir die 2021-’22 boekjaar uit dat die departement nie daadwerklike stappe gedoen het om onreëlmatige en vrugtelose uitgawes te voorkom nie. Die departement het ’n begroting gehad van R5,9 miljard.
Die OG kon geen ouditbewyse vind dat tugstappe teen amptenare gedoen is wat ongemagtigde, onreëlmatige of vrugtelose en vermorste uitgawes aangegaan het nie omdat geen interne ondersoeke gedoen is nie.
Intussen werk dr. Dion Theys, mediese direkteur, en Daniel Gaborone, finansiële hoof, weer by die departement nadat hulle vroeër van oortredings van die PFMA aangekla en geskors is. In die een saak waarin persoonlike beskermende toerusting (PPE) vir die Covid 19-pandemie na bewering onreëlmatig aangekoop is, is die aanklagte teen hulle teruggetrek hangende verdere ondersoek.
Theys verskyn weer op 24 Mei in die spesiale handelsmisdaadhof. Hy word in ’n afsonderlike saak aangekla dat hy tussen 2010 en 2012 twyfelagtige huurooreenkomste vir studenteverblyf van R96 miljoen aangegaan het.
Saul sê in sy rede hy het ’n ooreenkoms met die Spesiale Ondersoekeenheid en die Openbare Beskermer aangegaan om bedrog, korrupsie, wanadministrasie en wanpraktyke uit te wis.
“Ek is vol vertroue dit sal verlangde resultate oplewer.”


