NK beoog sege

Dit is ’n gegewe dat Pieter Bergh, nuwe afrigter van Griekwas, nie al sy kaarte in Vrydag (07/01) se oefenwedstryd tussen die Griekwas en Cheetahs sou wys nie.


Dit is ’n gegewe dat Pieter Bergh, nuwe afrigter van Griekwas, nie al sy kaarte in Vrydag (07/01) se oefenwedstryd tussen die Griekwas en Cheetahs sou wys nie.

Griekwas het in Bloemfontein met 26 – 38 teen die Vrystaters vasgeval.

Dié twee spanne pak mekaar Saterdag (15/01), weer in die Rosestad, in die ware Jakob.

Verskeie positiewe punte was Vrydag aan die Poubloues se spel sigbaar.

Die Noord-Kapenaars het ’n paar keer baie veld met rolmaal­bewegings gewen en het goed in die lynstane vertoon.

Daar was ook ’n hanteerfout of twee, en dalk die grootste probleem was die geleenthede wat die Poubloues nie in punte omskep het nie.

“In die verlede het Griekwas baie gesukkel in die lynstane,” sê Bergh.

“Dit was goed om die seisoen met sukses in die lynstane te begin. Ek dink ons lynstane was uitstekend, en dit is beslis iets om op voort te bou. Dit gaan ons selfvertroue gee.”

Vir vanjaar gaan Ruan Steenkamp weer die Griekwas op die veld lei, met die Noord-Kapenaars wat die Curriebeker in hul visier het.

Steenkamp (28), ’n losvoorspeler, het die Poubloues ook verlede jaar aangevoer toe hulle die halfeindronde van die Curriebeker-rugbyreeks gehaal het.

Hy is ’n bewese kaptein, wat vroeër in sy loopbaan spanne soos die Suid-Afrikaanse Skolespan, die Junior Bokke en die Bulle aangevoer het.

“Ek glo jy moet eerder deur voorbeeld lei as om te praat,” sê Steenkamp.

“Om ’n ding reg te probeer praat, werk nie. Ek wil die span lei met die manier waarop ek speel.”

Steenkamp, ’n boorling van Krugersdorp, en sy spanmaats hoop om vanjaar die eerste keer sedert 1970 weer die Curriebeker staanplek in Kimberley te gee. Verlede jaar het die Haaie hulle net-net met 28 – 24 in die halfeindronde geklop.

“Ons het verlede jaar gesê ons mikpunt is om die Curriebeker te wen, en ons het die halfeindstryd gehaal. Dit is beslis weer ons mikpunt om die Curriebeker te wen.”
Ruan Steenkamp

Toe hy verlede jaar gesê het die Poubloues wil in 2021 die Curriebeker wen, het sommige kritici seker hul oë gerol.

Griekwas kon immers die vorige seisoen nie ’n enkele Curriebeker-wedstryd wen nie.

Steenkamp-hulle het egter in 2021 gewys dat hulle nie lugkastele in Kimberley bou nie.

Hulle het onder meer oorwinnings oor groot spanne soos die Westelike Provinsie, Haaie en Leeus op pad na die halfeindronde behaal.

’n Hele groep spelers, asook Scott Mathie (hoofafrigter) en Albert van den Berg (hulpafrigter), het Kimberley intussen verlaat. Tog beteken dit nie die Poubloues gaan vanjaar swakker wees nie.

Spelers soos Johan Mulder (skrumskakel), Rynhardt Jonker (senter) en Sango Xamlashe (senter) sal die geleentheid wat hulle nou kry, met albei hande wil aangryp.

Steenkamp sê dat hulle onder leiding van Bergh, en Barend Pieterse (hulpafrigter), ’n nuwe plan het om sukses in 2022 te probeer verseker.

You need to be Logged In to leave a comment.