Tydens die geselligheid van die Noord-Kaapse departement van sport, kuns en kultuur waar top-atlete van Atletiek Griekwaland-Wes (AGW) vir hul onlangse prestasie tydens vanjaar se Comrades-ultramarathon vereer is, is van links Arthur Nziweni, Lorato Banda (president AGW), Frances Nel en Tebogo Moipolai.

Foto: Facebook/AGW Credit: SYSTEM

Vir die eerste keer het duisende atlete in Augustus aan die Comrades-ultramarathon deelgeneem.

Die berugte marathon is op 28 Augustus as ’n “down-run” van 89,88 km van Pietermaritzburg na Durban aangepak.

Volgens letsrun.com het die ultramarathon nog nooit later as 14 Julie plaasgevind nie, maar ná twee jaar wat dit nie weens die Covid-19-pandemie kon plaasvind nie, het die Comrades Marathon Association (CMA) besluit om dit later in die jaar aan te bied, met die gesondheid en veiligheid van atlete in gedagte.

Twee ure ekstra daglig teen einde Augustus, asook hoër temperature, was sterk beweegredes vir die besluit, het CMA-voorsitter Cheryl Winn vroeër gesê.

Winn het ook opgemerk dat die Comrades nog nooit ’n “tradisionele” datum gehad het waarop dit plaasgevind het nie, en dat die datum voorheen tussen middel-Mei tot middel-Julie geskuif het.

Uit Noord-Kaapse klubs het 74 atlete die marathon binne die afsnytyd van 12 ure voltooi. Dié atlete is op 5 September deur die Noord-Kaapse departement van sport, kuns en kultuur tydens ’n geselligheid vereer.

Hier het die departementshoof, Oupa Phiri, prysgeld van R10 000 aan die twee topmans- en twee topvroue-atlete van Atletiek Griekwaland-Wes (AGW) oorhandig.

Die atlete is Tebogo Moipolai en Arthur Nziweni van die Teemaneng Running Club wat albei silwermedaljes ontvang het; en Frances Nel en Charmain Ras van Kimberley Road Runners wat onderskeidelik die Bill Rowan- en ’n bronsmedalje ontvang het.

Moipolai is die eerste AGW-atleet oor die eindstreep in 7:14:20; en Nziweni tweede en kort op sy hakke met 7:15:36.

Nel was die eerste AGW-vroueatleet en tiende AGW-atleet oor die eindstreep in 8:53:43; en Ras die tweede AGW-vroueatleet in 10:27:03.

Om vir ’n Bill Rowan-medalje in aanmerking te kom, moet ’n atleet die marathon binne 7 uur 30 minute en 8 uur 59 minute voltooi.

Dit word as van die moeilikste beskou om te verwerf omdat die atlete wat normaalweg in die tydgleuf eindig nie professionele atlete is nie, maar ’n voltydse werk het en tussendeur moet oefen.

You need to be Logged In to leave a comment.