NK 1ste gasheer vir dié spel

Buitelugpluimbal gaan vir die eerste keer ooit in die Noord-Kaap gespeel word tydens die Kalahari Air-Badminton Open Festival in Kimberley.


Buitelugpluimbal gaan in Maart vir die eerste keer ooit in die Noord-Kaap gespeel en beleef word.

Die eerste toernooi in buitelugpluimbal in Suid-Afrika, waaraan verskeie spanne van oor die land heen gaan deelneem, sal dan in Kimberley plaasvind, en boonop kan ondernemings spanne vir die mini-toernooi inskryf en kan enige lid van die publiek sy hand aan dié nuwe sportsoort waag.

Dit is alles deel van die Kalahari Air-Badminton Open Festival wat van 18 tot 20 Maart by Kalahari Lodge in Kimberley gehou word.

“Dit is die geleentheid om pluimbal weer op almal se lippe te hê. Ons wil dit ná die toernooi na die uithoeke van die Noord-Kaap neem. Dit is die beste ontwikkelingsgeleentheid in jare.”
Philip Opperman, voorsitter van die Noord-Kaap-pluimbalvereniging (NCBA).

Volgens die webwerf van die Wêreldpluimbalfederasie (BWF) is buitelugpluimbal ’n nuwe projek van die federasie wat ten doel het om geleenthede vir mense van alle ouderdomme, inkomstegroepe en vlakke van bevoegdheid te skep om die spel op bykans enige soort oppervlak in die buitelug te speel. Dit sluit grond, gras, sand, parke, tuine, strate, speelterreine en strande in. Mense met gestremdhede kan ook deelneem.

Buitelugpluimbal is eers in 2019 in China bekend gestel. Baie min toerusting is nodig om aan die sportsoort deel te neem. Al wat nodig is, is ’n ruimte om lyne wat ’n oppervlak van 16 m x 6 m beslaan, in oop te rol, asook rakette, pluime en ’n net.

Vir die eersdaagse mini-toernooi kan ondernemings hulle teen R1 000 per span (vier tot ses spelers) inskryf, wat ’n ideale spanbougeleentheid skep. Inskrywing sluit op 4 Maart om 12:00. Ondernemings wat hulle vir die mini-toernooi inskryf, mag gratis ’n uitstalling vir die naweek oprig. 

Ondernemings wat hulle nie vir die mini-toernooi inskryf nie, kan teen R500 hul uitstallings en baniere oprig. Borge van die geleentheid mag dit gratis doen.

Op die Vrydag en Saterdag sal ’n baan vir die lede van die publiek beskikbaar gestel word wat sy of haar hand aan die raket en pluim wil waag.

Dié buitelugpluimbalwedstryde sal teen die agtergrond van ’n plaasmark-atmosfeer plaasvind, met stalletjies, uitstallings en musiek. Van Kimberley se meer bekende kunstenaars gaan optree, maar minder bekende kunstenaars sal ook ’n kans op die verhoog kry.

Plaaslike kunstenaars kan Marius Pretorius (Mars) by 084-395-2708 bel. 

Belangstellendes kan Freda Keyser by 066-444-3515 (markstalletjies), Sharon Steyn by 083-457-8148 (uitstallings) en Tania Bekker by 071-506-1834 (deelname aan die toernooi) bel.

’n E-pos kan ook na taniabekker12@gmail.com gestuur word rakende die pluimbaltoernooi.  

Besoek die webwerf badmintonsa.co.za vir meer inligting oor die sportsoort.

Buitelugmuurbal is eers in 2019 in China bekend gestel en dit het ten doel om dié sportsoort, wat voorheen net binnenshuis gespeel is, vir enige persoon in die buitelug toeganklik te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.