Mense wat kabels en ander metaal by Eskom, Transnet en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) steel, behoort van hoogverraad aangekla te word, het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, einde November gesê.
Die koste daarvan vir staatsondernemings en die mynbedryf is meer as R47 miljard per jaar, wys navorsing. Dit is sowat R130 miljoen per dag, sê Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging.
Patel het ’n verbod van ses maande op die uitvoer van koper en koperallooi, met onmiddellike ingang, ingestel. ’n Lisensiestelsel word ook ingestel vir die verkopers van skrootmetaal, wat hulle ingevolge die Wet op Tweedehandse Goedere as handelaars in tweedehandse goedere sal moet registreer. Hulle sal belastingklaring moet hê en op ’n databasis geregistreer word.
Kontanttransaksies sal verbied word sodat ’n bewese geldspoor bestaan om transaksies in skrootmetaal te kan naspoor. Geen koper sal in besit van skrootmetaal mag wees nie tensy hy bewyse het dat hy dit by ’n geregistreerde handelaar gekoop het.
Die polisie het sedert Junie taakspanne in alle provinsies aangestel om op kabeldiefstal te fokus. Hulle het tot Oktober 1 946 mense in hegtenis geneem, van wie 43 tronkstraf opgelê is.


