Karlien van Jaarsveld het dit beslis nie altyd maklik gehad nie, maar geen terugslag het haar nog verhoed om keer op keer op te staan en sterker aan die ander kant uit te kom nie. In die eerste episode van die nuwe kort, derde seisoen van Net mens het sy haar hart oopgemaak oor haar lewe met al sy oppe en affe.
Die opnames is gemaak op die plaas Vygeboom waar sy en haar man, Joe Breytenbach, uitgespan het. Daniël en Eliah, die tweeling wat uit haar huwelik met Derick Hougaard gebore is, en haar en Joe se twee kinders, Elah en Samuel, was ook daar.
Die program begin met Karlien wat op ’n klip sit waar die oorspronklike fontein van die plaas was. “Die grootste openbaring wat ek by die Here gekry het, gaan oor die fontein, want die fontein is eintlik die oog – hoe die oog kan vernuwe en anders kan kyk,” sê sy.
Sy het ook deur die loop van die episode aan ’n skildery van ’n oog gewerk en vertel hoe belangrik dit is om eerlik te wees. “Jou leuen moet nie jou waarheid word nie, en vir dit om te gebeur, moet jou fontein oopgaan,” sê sy.
Karlien se pa, Bob van Jaarsveld, en ma, Ronel Brink, asook haar skoonsuster, Annatjie van Jaarsveld, is gaste en vertel elkeen watter impak sy in hulle lewens gemaak het.
Karlien is eerlik oor haar grootwordjare en hoe die gesin rondgetrek het – hoe moeilik dit was om elke keer in ’n nuwe skool nuwe maats te maak. “Ons het nooit baie geld gehad nie, maar ek en Pieter [Bobby se regte naam] het elkeen ’n fiets gehad en het soms met pouses mekaar by die fietsloods gekry en saam ons broodjies geëet,” onthou sy.
Haar ouers se stormagtige huwelik en uiteindelike egskeiding was traumaties, maar haar pa het 23 jaar gelede alkohol vaarwel geroep, en vandag het hulle ’n baie goeie verhouding.
Karlien en haar ouers vertel van haar rebelse jare ná matriek – van haar pa wat besef het sy het in ses maande nie een klas bygewoon toe sy veronderstel was om bemarking te studeer nie, tot haar ma wat Karlien se geskeurde kouse en swart geverfde naels onthou. Karlien het haar studies gestaak en vir Bobby in sy orkes begin speel en was later lid van die groep Die Melktert Kommissie. Haar eie groep, Revolusie, het gevolg, maar haar lewe het handomkeer verander toe sy een aand saam met Bobby kerk toe is en haar hart vir die Here gegee het. Vandag is haar geloof ’n reusedeel van haar lewe.

Oor haar suksesvolle loopbaan as solokunstenaar is sy dankbaar, maar erken haar gunstelingplek is haar huis by haar ma en kinders. “My mense is my huis,” sê sy. “Tannie Laurika [Rauch] het ’n liedjie ‘Huis’ waarin sy sing: ‘Leer jy nie jou les nie, dis nie ’n adres nie, dis jou mense wat jou huis is.’ Ek wil elke keer huil as ek dit luister. My mense is my huis.”
Sy én haar ouers is vol lof vir Joe. Ronel beskryf hom as ’n kalm mens wat altyd luister en ’n steunpilaar waarteen vyf mense – Karlien en die kinders – kan leun. Bob stem saam en sê hy vervul ’n ongelooflike rol as pa.
Haar huwelik met Derick kom ook op, en sy sê omdat sy self ’n kind is wat uit trauma kom, het sy nog altyd ’n behoefte gehad om ander te red. Só was dit ook met Derick. Die miskraam wat sy met hulle dogtertjie, Evah, in 2015 gehad het, was vir haar ’n keerpunt in hulle huwelik. Maar sy beskou die miskraam, asook haar en Joe se dogtertjie, Elah, se gesondheidsprobleme alles as deel van God se plan.
Karlien sien oral simboliek in haar lewe, en sy bring dit alles altyd terug na haar geloof en haar noue verhouding met God. Soos sy sê: “Alles in die lewe is so fyn verweef.”
Dit is dalk haar ma wat haar lewe tot dusver die beste beskryf: “Karlien is ’n sonneblom wat uit modder gegroei het.”
Die legendariese sangeres Amanda Strydom is die volgende gas in Net mens.
Die volledige episode is op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
- Net mens 3 is Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.






You must be logged in to post a comment.