Muf groei aan huise se mure omdat die mure nooit meer droog word nie, maar klam bly.Foto’s: Verskaf

Credit: SYSTEM

Enver en Desiree James kan glad nie meer hul sitkamer gebruik nie omdat dit heeltyd onder water is.

Inwoners van Vierdestraat in Ritchie wie se huise en erwe sedert April enkeldiep onder water uit verstopte vloedwaterpypnetwerke en weens onklaar pompe van die Sol Plaatje-munisipaliteit staan, kan “huil van frustrasie” weens die gebrek aan optrede en skade aan hul huise.

Huise se pleister blus, mure verkrummel, houtpanele trek van mure af weg, muf gedy, riooldreine loop oor en erwe raak onbegaanbaar weens die opgedamde water en meegaande modderspul.

Boonop ly hul gesondheid daaronder.

Cecile en Shelley Exeley-Thompson sê hulle en hul bure het die lekkasie al etlike kere aangemeld.

“Ons raadslid se versoeke aan werkers om in te gryp val ook op dowe ore. Ons kry net verskonings,” sê Cecile.

“Die ironie is dat werkers sê hulle kan nie hier met hul voertuie ry nie weens die dam water wat gevorm het. Dit is juis hoekom hulle die probleem moet oplos, sodat die water kan opdroog.

“Ons het al ons spaargeld gebruik om die huis mooi te maak. Nou verkrummel die motorhuis se mure, die pleister val van die mure af, swart muf groei oral, die teëls lig van die vloere af. Die huis verkrummel van binne en buite.

Hennie Uys se agterplaas het in ’n dam verander en die water vloei glad nie meer weg nie.

“Die agterplaas is een groot dam. Ons perde kan nie meer daar staan nie – ons was verplig om ander blyplek vir hulle te soek. Die syferdrein loop oor, en ons moet dit elke tweede dag teen R600, op ons eie koste, laat uitsuig.”

Hul versekeringsmaatskappy is bereid om die skade te laat herstel, maar die oorsaak moet eers opgelos word sodat alles uitdroog voordat herstelwerk kan begin.

“Ons is doodbang om elektrisiteit te gebruik, want ons weet nie of die water in ons bedrading gaan vloei nie.”

Muf groei aan huise se mure omdat die mure nooit meer droog word nie, maar klam bly.Foto’s: Verskaf

Nog ’n inwoner, Sandra Wagenaar, sê die water strek tot by haar agterstoep.

“Ek kan nie by my agterdeur uitkom nie en moet waterskoene aantrek om wasgoed op te hang. Ons staan soggens siek op omdat dit so koud is en weens die stank van alles wat verrot.”

Volgens Hennie Uys is hy al meer as keelvol.

“Die amptenare hou hulle vreeslik slim deur ons te wil wysmaak dat die watertafel opstoot. Die lekkende water sak nie meer in die grond nie, want die grond is versadig. Ons bly nou in ’n gronddam. Die vloedwaterkanale is alles verstop.”

Die ou huise in die buurt is destyds sonder ’n vogwerende laag gebou, en daarom trek die vog in die mure en pleister in. Dit blus en disintegreer weens die vog.

Uys het die onderste pleisterlaag van sy buitemure afgekap om lugvloei te kry.

In Enver en Desiree James se sitkamer wat heeltyd onder water is, het die vloerlyste afgeval terwyl die pleister verkrummel.

“Ek was verplig om die motorhuisdak af te haal om lugvloei vir die mure en vloer te kry. Die water vul ons syferdrein en dit stoot uit elke keer wanneeer jy die toilet spoel.”

Thoko Riet, munisipale woordvoerder, sê die oorsaak is ’n verstopte vloedwaterpypnetwerk en kanale, asook ’n foutiewe pomp.

“Die verstoppings verhoed dat die water wegvloei. Ons het Maandag werkers gestuur om die kanale skoon te maak,” sê Riet.

“Ons moet ook die foutiewe pompe in die pompstasie herstel, wat sal verhoed dat verstoppings voorkom.

“Die inwoners kan ons bel oor die skade aan hul huise en versekeringseise.

“Ons moet optree teen die amptenare en werkers wat nie hul werk doen nie, want dit raak dienslewering nadelig. Ons is hier om die gemeenskap te dien.”

  • Sien die video op NoordkaapBulletin se Facebook-blad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article