Ideale toestande vroeër vanjaar het ‘n perfekte omgewing vir vroeë ontkieming van blomme in dele van die Namakwaland geskep – veral vir die madeliefiespesies.
Die Namakwa- Nasionale Park het sedert Maart vanjaar goeie reënval ondervind, met gereelde opvolgbuie, en koue temperature wat met sonnige periodes afgewissel is. Warmer tydperke gedurende die laatherfs en vroeë winter het lente-agtige toestande nageboots, wat van die blomspesies vroeër as gewoonlik laat begin blom het.
Tans het blomme oor die Namakwa- Nasionale Park en omgewing reeds begin blom, al is dit in sekere gebiede op die stadium kol-kol. Dit dui daarop dat die blomseisoen nog in sy vroeë stadium is, sê JP Louw, woordvoerder en kommunikasiehoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke).
Die Skilpad-gebied en omgewing begin nou ontwaak, terwyl dele van die 4×4-eko-roete, insluitend Wildeperdehoek en Kookfontein wat binne die park geleë is, reeds vol helder kleure is, sê Genevieve Maasdorp, kommunikasiehoof van SANParke se ariede streek.

Dit word voorspel indien gunstige weer voortduur besoekers ‘n dramatiese gedaantewisseling in die komende weke kan verwag, met blomme wat wydverspreid behoort voor te kom. Boonop, indien die huidige patroon van koue weer en volgehoue sagte reënbuie voortduur en die warm, droë oostewinde afwesig bly, kan ‘n lang en skouspelagtige blomseisoen is die Namakwaland verwag word.
Tans is toestande gunstig dat die blomseisoen tot diep in Augustus en selfs tot in September sal duur.
“As jy nog nie begin beplan het om vanjaar se blomseisoen te ervaar nie, maak gou, want die blomme haal alles uit om besoekers aan die Namakwa- Nasionale Park te verwelkom,” raai die woordvoerders aan.
Op Facebook sê Mike Spies van Namakwa Toere dat die Namakwaland pragtig in blom in. “Die veld is reeds vol plate, maar daar is beslis nog wat gaan kom,” voorspel hy.
Goeie beplanning is belangrik om ‘n uitstappie na die blommewêreld so goed as moontlik te benut. In ‘n onderhoud met lekkeslaap.co.za sê Marné Lloyd dat die blomme nie net tot sekere dorpe in dié streek en tot mensgemaakte grense beperk is nie. Lloyd gee talle nuttige wenke in die onderhoud.
In nog ‘n Facebook-plasing skryf Ester Claassen vanaf Springbok dat die oranje Namakwalandse madeliefies welig in blom is.
- Besoek die Clanwilliam-toerismeburo vir nog inligting oor die blommeseisoen. Die Clanwilliam Wildeblom-skou word boonop van 29 Augustus tot 7 September aangebied.
- Skakel ook die Namakwa- Nasionale Park by 027 672 1948.







You must be logged in to post a comment.