Glansooggousblommetjies staan dapper op dun stammetjies penorent. FOTO: ANNEKE MÜLLER
Glansooggousblommetjies staan dapper op dun stammetjies penorent. FOTO: Anneke Müller

Toe ons vroeër vanjaar ons wintervakansie beplan, het my vrou, Anneke, voorgestel ons besoek die Namakwa- Nasionale Park, suidwes van Springbok in die Noord-Kaap. 

Ek het dadelik ingestem, want dit het salig geklink om tien dae lank na ‘n wildernis te ontsnap – baie beter as my voorstel om die N1 van die Kaap na Limpopo en terug te vat!

Namakwaland is natuurlik bekend vir die skouspelagtige blomme wat elke jaar wild hier opkom en vir ‘n paar weke lank besoekers van heinde en verre lok. Die blomseisoen kom gewoonlik eers in Augustus, en ons sou slegs vroeg in Julie kon wegkom – maar dit was nie ons hoofdoel nie; ons wou net wegbreek.

Blomme vanjaar vroeg

Ons was dus aangenaam verras toe ons sommer anderkant Garies reeds plek-plek veldblomme langs die pad begin sien het. Dit was egter niks teen die plate blomme wat in die veld op ons gewag het kort nadat ons by Kamieskroon van die N7 afgedraai het nie.

Veldblomme in al hul glorie by Kookfontein in die Namakwa- Nasionale Park. Foto: Desmond Thompson

En toe ons 21 km op ‘n lekker klam grondpad later die park binne is, het ons net op meer en meer blomme afgekom, van alle soorte en kleure – oranjes, geles, wittes, pienkes, perses … 

Soos uit dié beskrywing afgelei kan word, was my botaniese kennis in dié stadium redelik beperk. Maar daar was nie grense aan my genot nie. Dit was die oorspronklike mooi – eg en onopgesmuk.

En vreedsaam, want die horde besoekers wat jaarliks hierheen stroom, het nog nie besef die blomme was vanjaar vroeg nie. Die hele grote park het in elk geval net vier vakansiehuisies te huur. Hier is weliswaar ook 11 verskillende kampterreine, maar dis aan die Weskus, meer as 100 km ver van die Skilpad-ruskamp waar ons uitgespan het. 

Dak van Namakwaland

Die uitsig van die Dak van Namakwaland is asemrowend. Van die platorand byna 800 m bo seespieël af val die aarde in golwe heuwels weg na die oseaan, wat ‘n dun blou strepie doer ver op die horison is. Gelukkig het ons verkykers ingepak!

Links, heel bo: Daar is net vier vakansiehuisies in die hele grote park te huur, wat beteken besoekers kry die luuksheid van ruimte in die oortreffende trap. Regs, heel bo: Van hier is die uitsig oor die onderste deel van Namakwapark asemrowend. Foto’s: Desmond Thompson. Bo: Die uitsig van die Skilpad-ruskamp af na Hondeklipbaai aan die Weskus. Foto: Anneke Müller

Die Namakwa- Nasionale Park is een van Suid-Afrika se jongste bewaringsgebiede. Dit is eers in 2002 amptelik geproklameer, en so onlangs as verlede jaar nog het die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) ‘n aangrensende plaas aangekoop om die Namakwapark verder uit te brei tot die sowat 1400 km2 wat dit tans beslaan.

Dié sekelvormige natuurreservaat lê deels in die Karoo se vetplant-streek, wat gekenmerk word deur die grootse verskeidenheid van dié geharde plante op aarde. Sowat 1 000 plantspesies kom slegs hier voor.

Vanjaar se goeie reënval het die wêreld hier groen gemaak, en die Hardeveld vroeër as gewoonlik sag met blomme.

Koek-en-tee

Die park is in ‘n uitstekende toestand danksy die harde werk van beamptes soos Daile Beukes en Bianca Kriel. Almal is hulpvaardig en deel hul kennis mildelik met ons.

Omgewingsbeamte Reginald Christaan leer ons van geelsneeu en wit sôe, bittergousblom en soetgousblom, pietsnot en snolknol, slymstok en sandolyf, gansogies, bobbejaangesiggies en kattekrui.

Reginald Christiaan. Foto: Desmond Thompson

Tradisionele name vir plante was nog altyd vir my mooi, maar hier maak ek eerstehands kennis met koekemakranka se krullote en kruidjie-roer-my-nie se stink blare – tot my spyt!

Fluitjiesbos is volop hier. Dit staan ook as waterpens bekend, want as skape aan dié grysgroen indringer van Australië met geel blommetjies vreet, swel hulle glo op. Toe ek dit hoor, het ek stilletjies gehoop dit gebeur nie met springbokke ook nie.

Hier is heelwat kokerbome, wat alombekend is, maar kokerdoosblom (of uilblaar) was vir my ‘n nuwe ontdekking. So ook sambreeltjies, ‘n gepaste naam vir hierdie soort felicia (of astertjie) met kroonblare wat ondertoe hang.

Sambreeltjies. Foto: Anneke Müller

Een van ons ander gunstelinge was die dubbele gousblom, waarvan die hange by Kookfontein oranje gevlam het.

“Dit lyk of hulle onderrokkies in die wind wapper,” het my vrou gesê.

Nog ‘n treffer was bokhoring, struike met donkerpienk blomme wat dié naam weens hul dun, skerp saadpeule dra.

“In ‘n ander deel van Namakwaland noem die mense dit koek-en-tee, want die sap is soet as hulle vars is,” vertel Reginald ons.

Veld-universiteit

Reginald is ‘n para-ekoloog wat ondanks sy gebrek aan formele opleiding al artikels in wetenskaplike joernale publiseer het.

“Die veld is my universiteit. Jy kan in die klas sit of boeke lees, maar jy verstaan nog altyd nie. In die veld sien jy goed met jou eie oë.”

Reginald Christiaan

Reginald kom van Soebatsfontein, ‘n klein dorpie net buite die park op pad na Koingnaas. Daar het hy in 2004 vir dr. Ute Schmiedel van die Universiteit van Hamburg ontmoet. 

“Hulle het van Duitsland af gekom om na Suid-Afrika se biodiversiteit te kyk. Ek het gevra ek wil sien wat hul doen, en dis hoe ek by hulle en hulle by my begin leer het.”

Later het hy ‘n internskap by die Landbounavorsingsraad en Ditsong-museums in Pretoria gedoen. Sy studieleier was prof. Ansie Dippenaar-Schoeman, die bekende “spinnekopvrou”, en sedertdien bestudeer hy graag dié goggas.

“Ek is mal oor wetenskap, veral veldwerk. Jy leer elke dag iets nuuts,” sê hy.

Soebatsfontein. Foto: Anneke Müller

Op haar toonnaels

Terug op kantoor stel Reginald ons aan Deslin van Schalkwyk voor, wat ook van Soebatsfontein af kom. Sy doen diens by ontvangs.

Ons begin !horo – Nama vir gesels, sê Deslin – maar toe die foon lui, antwoord sy blitsvinnig. Die persoon aan die anderkant sê iets wat haar laat glimlag.

“Ja,” sê sy, “ek is mos gewoonlik op my toonnaels.”

Ná die gesprek verduidelik sy dié uitdrukking: “Hy was beïndruk dat ek die foon net eenkeer laat lui het, toe sê ek maar ek is oppit”.

Deslin van Schalkwyk. Foto: Desmond Thompson

Nes Reginald, ken Deslin die park goed. Ek vra haar uit oor die netjiese klein kerkhof waar die korhaan-staproete begin.

“Dis die mense wat laaste hier op die plaas Skilpad geboer het se voorsate wat daar begrawe lê,” sê sy.

Ons vind uit daar is nog ou grafte in die park – by Koeroebees, ‘n samestelling van twee Nama-woorde, “koeroe” vir grawe en “bees” vir water. Daar is standhoudende water by dié plekkie danksy twee fonteine.

Ons sien dis net 10 km van ons blyplek af, en besluit om sommer met ons bergfietse daarheen te ry. 

Wat ‘n ervaring! Dis al die pad afdraande – so steil dat die eerste deel van die grondpad met sement vervang is anders sukkel selfs viertrekvoertuie om van onder af weer bo uit te kom.

Ons het af gevlieg op ons fietse, maar harde bene gekou terug. 

Diere vir Afrika

Ons sien ‘n rooikat by ‘n stroompie waar ons ‘n rukkie asem skep. Die dier spring die bosse in, maar oor die volgende bult kom die kat weer – vermoedelik uit nuuskierigheid.

Ons sien ook jakkalse, gemsbokke, springbokke, steenbokkies, rooihartebeeste, dassies, muishonde en ‘n toktokkie – en elders in die park ‘n meerkat wat kiertsregop staan, ‘n groot haas wat met wippende ore stadig weghop, en ‘n broeipaar dikkoppe wat verstar toe hulle ons sien. 

‘n Akkedissie het smiddae kom hitte soek as ons ‘n vleisbraaivuur aansteek, en ná ete het ons dan saam in die wintersonnetjie gebak. 

Ons huisie was lekker warm, maar ons het twee nagte die koue buite trotseer – om ‘n volmaan spierwit in die lug te sien hang, en ‘n paar dae later om miljarde sterre helderder as ooit te sien blink.

Verskeidenheid diere in die Namakwa- Nasionale Park: Van links is, heel bo: ʼn Springbok – van die vierpotige soort. Regs heel bo: ‘n Gemsbok, met “heuweltjies” – antieke termietneste waarop plante welig groei – in die agtergrond. Bo: Kyk net hoe goed is die dikkoppe gekamoefleer – wanneer hulle stilstaan, is dit nogal moeilik om hulle raak te sien. Foto’s: Anneke Müller

Spore van die verlede

Onder by Koeroebees kom ons op murasies af. Dis huise van klip, klei en hout wat met die jare verweer het. Op ‘n inligtingsbord word genoem ses gesinne het in ‘n stadium hier gewoon. Die grond is in 1844 aan ene JHS Aggenbach toegeken. Die laaste gesin het in 1963 weggetrek.

‘n Kort staproete lei na nóg grafte. Hulle is ook omhein, maar anders as bo by Skilpad is hier nie grafstene met name en datums op nie. ‘n Plakket noem net dat plaaswerkers hier begrawe is. In die dood is dié mense van Namakwaland anoniem.

Nog iets val ons op – plek-plek is daar vreemde sirkels in die veld. In die parkgids lees ons dít word “heuweltjies” of “kraaltjies” genoem – die oorblyfsels van antieke termietneste wat tot 30 000 jaar oud is. Die insekte se bedrywighede het die grond só verryk dat dit steeds vrugbaarder as omliggende dele is, met die gevolg dat gras en blomme in kringe daarop opslaan.

Wat ‘n voorreg om die mense en stories en plante en diere en plekke en dinge van die Namakwapark te beleef.

Die skrywer, Desmond Thompson, en sy vrou, Anneke Müller. Foto: Desmond Thompson

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article