’n Pa bly ’n dogter se held

Ek het ’n rukkie gelede een van die hartroerendste WhatsApp-boodskappe ontvang.


Ek het ’n rukkie gelede een van die hartroerendste WhatsApp-boodskappe ontvang.

Dit was van ’n jare lange vriendin. Ons het mekaar ’n paar jaar terug op Varsity ontmoet.

Nou, na haar egskeiding, bevind dié gepamperlangde “City girl” haarself in die middel van nêrens op ’n plaas tussen skape en ’n windpomp.

Sy vertel met die onlangse opruiming van haar garage het sy op ou foto’s in ’n toegeplakte boks afgekom.

Dit was tientalle familiefoto’s van toeka se dae.

Op een foto het ’n klein seuntjie op sy pa se skoot gesit. Dit is ’n foto van haar pa en Oupa.

“My seuntjie lyk op ’n druppel water soos my pa. Pa lyk nes oupa.”

Dié foto laat haar baie na haar pa verlang.

“Ek weet nie of jy dit weet nie, maar my pa was vir ’n lang tyd in die hospitaal. Ons almal het probeer om hom daagliks te besoek,” verduidelik sy.

Sy bedkassie was vol prente wat die kleinkinders vir hulle “Oupie” geteken het.

“Teen die einde het hy geen benul gehad wie ons is nie. Dit het veral my ma se hart gebreek,” sê sy.

“Ek het elke keer gehuil, want ek wou hom nie daar los nie. Ek wou hê hy moes sy laaste dae saam met sy familie deurbring.

“Die oggend van sy dood het hy normaal opgetree. Ek het langs hom op die bed gaan sit.

“Hy het vir my geglimlag asof hy my herken het. Dit het op daardie oomblik gevoel asof hy weet dat ek sy Poplap is.”

Terwyl sy nog lekker met haar pa gesels het, het hy skielik gesê: “Ek is moeg. Jy moet loop. Ek wil slaap.”

Sy skryf verder dat sy hom op die wang gesoengroet het en gesê het dat die hele familie hom tydens die aandbesoek sal sien.

’n Halfuur later is hy dood.

“Ek weet dit is al ’n klompie jare terug, maar dié foto het nou weer die seer oopgekrap.

Sy sê as sy geweet het dit is haar Pappa se laaste oomblikke op aarde, sou sy langs sy bed bly sit het.

“My pa is stoksielalleen dood. Niemand het sy hand vasgehou nie. Ek sal myself altyd daaroor verwyt.”

Elke keer wat ek die boodskap lees, sit die trane vlak.

Die trane begin oorstoot wanneer ek haar boodskap oopmaak.

Hy was haar superheld en vertroueling.

Sy was sy oogappel!

You need to be Logged In to leave a comment.