Vir die eerste keer het ‘n bibliotekaris van die Noord-Kaap die gesogte nasionale Bibliotekaris van die Jaar-eerbewys verwerf.
Manda Hough, waarnemende stadsbibliotekaris by die Kimberley Openbare Biblioteek, het onlangs hierdie eerbewys, deur die Biblioteek- en Inligtingsvereniging van Suid-Afrika (Liasa) en geborg deur Universal Knowledge Software (UKS), ontvang.
Hough, ’n professionele bibliotekaris met 24 jaar ondervinding in verskeie velde van die biblioteekwese, studeer tans vir haar honneursgraad en is passievol daaroor om na die gemeenskap uit te reik.
In haar huidige aanstelling bestuur sy agt biblioteke in Kimberley, asook die Africana-navorsingsbiblioteek.
Vir Hough, wat die Imagination World Reading Club by die Beaconsfield-biblioteek begin het, is dit uiters bevredigend om die vordering van kinders te sien sodra hulle by die leesklub aangesluit het.
By dié biblioteek, en ook by die ander, word storie-ure gereeld aangebied en kinders word met lees en spel gehelp.
In 2019 het die leesklub op ’n insetsel op SABC TV, op Internasionale Geletterheidsdag, verskyn. Hiertydens het die kinders vertel hoe hul deelname aan die leesklub gehelp het om hul skoolwerk te verbeter.
Hough het ook verskeie lees- en dramasessies met bejaardes en persone met gestremdhede gedoen.
Hough het voorheen aan NoordkaapBulletin vertel dat sy “van kleins af elke aand slaaptydstories gekry” het.
Sy vertel dit is bevind dat die band tussen volwassene en kind versterk word wanneer daar vir die kind voorgelees word.
Boonop ontwikkel kinders se kognitiewe, ouditiewe en gespreksvoeringvaardighede beter wanneer daar gereeld vir hulle gelees word. Sulke kinders is beter toegerus en gemotiveer om te leer lees en skryf, vertel sy.
Hough, gaande oor boeke en die reuk van blaaie, was ’n leerling aan die Laerskool Staats en die Hoërskool Diamantveld. Sy is die dogter van André en Betsie Potgieter van Kimberley, ‘n afgetrede prokureur en oud-laerskoolonderwyseres. As kind het sy met haar fiets na dié einste Kimberley Openbare Biblioteek gery om in die wêreld van boeke te wees.
Selfs vakansies in Jeffreysbaai het sy saam met haar bibliotekaris-ouma werk toe gegaan om ook te gaan “werk”.
Hough is in Desember 2012 by die geskiedkundige Beaconsfield-biblioteek aangestel nadat sy en haar man terug Kimberley toe getrek het. Voor dit was sy vir 13 jaar die hoofbibliotekaris in Kakamas en het onder meer ’n bykomende tien biblioteke bestuur.
Sy het haar B. Bibl-graad aan die Stellenbosch Universiteit ontvang en het in 1997 as ’n streeksbibliotekaris in Worcester begin werk waar sy onder meer 12 openbare biblioteke in die Hermanus-omgewing bestuur het. Hough het ook die Carnegie Library Leadership Academy in 2012 in Pretoria bygewoon waar sy met ‘n onderskeiding geslaag het.
Volwassenes besoek die biblioteke ook gereeld. Behalwe vir boeke uitneem, is daar diegene wat elke dag die nuutste koerant of tydskrif in die biblioteek kom lees.
“Ons het boeke in talle huistale en wil graag die kultuur van lees by almal bevorder.
Die Sol Plaatje-munisipaliteit het nege biblioteke in sy gebied. Behalwe die Kimberley Openbare Biblioteek, is daar een in Beaconsfield, Hadisonpark, Galeshewe, Greenpoint, die Judy Scott-biblioteek in Square Hill Park, die Sonny Leon-biblioteek in Roodepan, Ubuntu in Homevale en die Africana-biblioteek.
Galeshewe en Beaconsfield het ook ’n Mini Lib for the Blind waar ’n rekenaar met oorfone gebruik word om boeke wat op CD voorgelees is, te luister.
“Of jy fiksie of nie-fiksie lees – dit vergroot jou woordeskat en verbreed jou wêreld. Jy kan Amerika toe gaan of in die Alpe ski – hier in die biblioteek,” sê Hough.
Hough is tans die voorsitter van die Noordkaap-tak van Liasa, asook die ondervoorsitter van die Nasionale Belangegroep vir Openbare Biblioteke, ook bekend as die Public and Community Libraries Interest Group of Paclig.
Sy beplan om met haar wengeld haar honneursgraad te voltooi asook ’n studietoer oorsee te doen.


