Die finansiële volhoubaarheid van munisipaliteite in die Noord-Kaap het sedert 2017 van 39 uit 100 punte na 31 uit 100 gedaal.
Volgens Ratings Afrika, ’n graderingsagentskap, is die hele munisipale sektor in Suid-Afrika op die rand van ineenstorting.
Só berig Antoinette Slabbert in Rapport (05/06).
Die agentskap het bevind dat die Emthanjeni-munisipaliteit (gesetel in De Aar), die mees onvolhoubare raad in die Noord-Kaap is, met 18 uit 100; terwyl Ga-Segonyana (Kuruman) die mees volhoubare is met 46 uit 100.
Ratings Afrika se bevinding is dat ses uit elke tien munisipaliteite in die land nie finansieel volhoubaar is nie, en waarskynlik nie in werking is nie wat dienslewering betref.
Ratings Afrika sê dat inwoners onder swak dienslewering ly, met ekonomiese groei wat aan bande gelê word deur rade se onvermoë om infrastruktuur te ontwikkel en in stand te hou.
Die agentskap maan dat indien munisipaliteite nie meer noodsaaklike dienste kan lewer nie, dit tot grootskaalse politieke onrus kan lei.
Intussen het ’n petisie van die DA en inwoners van Kathu buitensporige watertariefverhogings in die Gamagara-munisipaliteit gehalt. Die instelling het ingestem om dié verhogings terug te trek.
Met die beoogde verhoging sou rekeninge vir buitewatergebruik met tussen R2 000 en R3 000 per maand per huishouding gestyg het. Die onrealistiese tariefverhoging, spesifiek op rouwater wat van die buitewaterpypleiding kom, sou verskriklike gevolge vir inwoners inhou, sê Du Plessis.
Gamagara ontvang dié rouwater, wat gebruik word om tuine nat te lei, van die Kumba Sishen-myn teen ’n lae koste van 6c per kiloliter. Dit word teen meer as R10 per kiloliter aan inwoners verkoop. Volgens die munisipaliteit wil hy die tariewe laat strook met dié van water vir huishoudelike gebruik, ongeag dat dit nie behandel word nie.
Te danke aan die getekende petisie het die DA daarin geslaag om die munisipaliteit te oorreed om ’n verhoging van 4,8% te implementeer, op ’n glyskaal.
Bykomend tot onvolhoubaarheid en buitensporige tariewe, pootjie vandalisme ook telkens die lewering van dienste wat inwoners toekom. Die afgelope dae het misdadigers in die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley weer hul hou ingekry.
Verlede week is brekers ter waarde van R150 000 in die munisipale substasie in Centralweg gesteel of gevandaliseer. By die Phutanang-substasie in Galeshewe is ’n kabel ter waarde van R600 000 gesteel. Dit bring mee dat talle buurte ure lank, soms dae lank, sonder elektrisiteit is.
Thoko Riet, munisipale woordvoerder, versoek inwoners wat inligting rondom hierdie aktiwiteite het om dit bekend te maak.


