’n Grondeienaar het op 22 Maart ’n sug van verligting geslaak nadat sy ’n hofbevel in die hooggeregshof in Kimberley teen die Sol Plaatje-munisipaliteit bekom het wat jare lank onbeheerde massas ongesuiwerde afvalwater in ’n soutpan op haar wildplaas stort.
Haar vorige pleidooie aan die munisipaliteit om die wanfunksionele Homevale-rioolaanleg op die kant van die Kamfersdam-soutpan reg te ruk, is geïgnoreer.
’n Hofbevel, eerder as om die saak buite die hof te skik, is volgens Brenda Booth se regspan die enigste manier om die munisipaliteit tot regstellende stappe te verplig.
Die erg besmette afvalwater het reeds twee-derdes van die wildplaas verswelg en bedreig die voorbestaan van die wildboerdery.
Die flaminke en ander watervoëls het volgens Booth die “toksiese meer” verwerp.
Booth wat die aansoek namens Northern Cape Ranchers (NCR) gebring het, sê in haar beëdigde verklaring die munisipaliteit het in die 1960’s ’n serwituutooreenkoms met die NCR gesluit om “aanvaarbare gehalte behandelde afvalwater” in Kamfersdam te stort.
Die serwituutooreenkoms het egter nie die presiese gehalte en hoeveelheid water wat gestort mag word, gestipuleer nie. Die ooreenkoms is in die jongste hofbevel aangepas.
Die munisipaliteit mag net 30 megaliter per dag stort en die watergehalte moet beperk word tot die aanvaarbare standaard van 1 000 CFU eenhede. CFU is ’n eenheid wat in mikrobiologie gebruik word om die aantal bakterieë of swamme (byvoorbeeld e.Coli) in ’n monster te bepaal.
Tussen 1964 en 2004 het die pan ’n standhoudende waterliggaam en vleiland geword en die tuiste van kwesbare kleinflaminke.
Teen 2007 en 2011 het sowat 24 000 kuikens op ’n mensgemaakte eiland in die pan uitgebroei en teen 2008 is sowat 65 000 kleiner flaminke deur BirdLife South Africa op Kamfersdam getel.
Nou is daar enkeles oor.
Booth sê die munisipaliteit moet binne 60 dae hul regrukplan aan die regter voorlê.
“Ons het ook insae daarin en mag kommentaar lewer. Indien ons instem dat dit die regte stappe is, sal dit ’n hofbevel word. Anders moet ons voorstelle eers ingewerk word voordat dit ’n hofbevel word.”
Nog regstappe teen munisipaliteit
In watermonsters wat in Januarie deur die departement van water en sanitasie (DWS) by die Homevale-waterverwerkingsaanleg getoets is as deel van hul regstappe teen die munisipaliteit, was die coliform-telling 29 000 CFU, terwyl die voorgeskrewe standaard 1 000 CFU is.
Die departement berei vir ’n interdik- en ’n parallelle aansoek voor om die munisipaliteit strafregtelik te vervolg weens wetlike oortredings met afvalwaterbestuur.
Hul toetse bevestig uitermatige en onaanvaarbare vlakke van e.Coli-besmetting. Volgens Wisane Mavasa, woordvoerder, is hulle tot regstappe gedwing.
“Met al ons vorige direktiewe en administratiewe aksies teen die munisipaliteit het hulle aksieplanne geïmplementeer wat nie tot ons bevrediging is nie. Die infrastruktuur moet ten volle opgeknap word om funksioneel te wees.”
Booth sê haar prokureursbriewe van verlede jaar waarin sy optrede eis het onbeantwoord gebly.
“Die munisipaliteit het nie op die keerdatum van 5 Februarie geantwoord of hulle ons hofaansoek gaan teenstaan nie. Eers verlede week het hul regsverteenwoordiger met ’n voorstel vorendag gekom om buite die hof te skik.
“Ons sal nooit daartoe instem nie, want hulle het gewoonlik die wonderlikste voornemens oor wat hulle gaan doen. Dit is beter dat die hof toesien dat hulle doen wat hulle veronderstel is om te doen.”
Die munisipaliteit moet binne 60 dae ’n regrukplan voorlê. Die saak is tot 20 Julie uitgestel wanneer die goedgekeurde regrukplan ’n hofbevel word. My plaas se oppervlakte is in gedrang. Die waterliggaam in die pan mag ingevolge die serwituut net 400 ha in beslag neem, maar is meer as 700 ha groot. Al krimp die besmette watermassa en verbeter die watergehalte, gaan die grond besoedel wees. Dit gaan verskriklik lyk en niks gaan weer daar groei nie.
“Ons sal nie daardie grond in boerdery kan gebruik nie. Ek weet nie hoe en of dit werklik gerehabiliteer kan word nie.”
Delmaine Christians, ’n DA-LW wat die aansoek as ’n vriend van die hof bygewoon het, sê haar skrywes aan die munisipaliteit, verskillende provinsiale en nasionale staatsdepartemente, die minster van water en sanitasie, adjunkpresident en die president oor Kimberley se rioolprobleme het geen optrede uitgelok nie.
Sy meen regstappe is die enigste oplossing.




