’n Inwoner van Kakamas tydens ’n optog wat in Februarie in die dorp plaasgevind het oor die voortdurende watertekort, asook die swak gehalte van die water.

Foto: Verskaf

Die Kai !Garib-plaaslike munisipaliteit, wat verantwoordelik is vir dienslewering aan Kakamas, Keimoes en Kenhardt, blyk onwillig te wees om die gemeenskap se probleme oor dienslewering op te los.

Só sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Strauss sê die afgelope vier jaar was gekenmerk deur probleem op probleem in hierdie dorpe waar teerpaaie, vullisverwyderingsdienste, en water- en rioolwerke in ’n haglike toestand is.

“Die munisipaliteit trek net skouers op,” sê hy.

Verskeie pogings deur die plaaslike AfriForum-takke om ’n helpende hand uit te steek, is tevergeefs, en optogte, aanmanings, petisies en skrywes aan die munisipaliteit val ook op dowe ore.

Ongeskik vir menslike gebruik
Volgens Strauss doen AfriForum maandeliks watertoetse en die water bly ongeskik vir menslike gebruik – die burgerregteorganisasie het reeds klagtes hieroor by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien.

Die rioolwerke in al drie die dorpe laat veel te wense oor. Riool vloei in die strate en in mense se erwe. Daar is ook voortdurend watertekorte en wanneer daar water is, is dit baie min of bevat dit ’n rioolreuk en bruin kleur.

Die munisipaliteit loop ook keer op keer bloutjies met onkundige of misdadige kontrakteurs en wanneer vrae hieroor geopper word, is die antwoord dat die kontrakteurs wat nie die werk kon doen nie slegs geswartlys word en nie vervolg word nie.

“Die paaie in Kakamas, Keimoes en Kenhardt is ook in so ’n slegte toestand dat dit dalk beter gaan wees om net uit die staanspoor grondpaaie te hê. Die paaie is vir 30 jaar nie onderhou nie en dit wys,” sê Strauss.

Riool vloei in Oranjerivier

In Upington het AfriForum se Upington-tak onlangs ’n spesialis genader om ’n verslag op te stel oor die riool wat voortdurend in die Oranjerivier vloei. Hieroor trek die Dawid Kruiper-munisipaliteit al vir meer as vier jaar lank skouers op, aldus die burgerregteorganisasie.

Ook hierdie kwessie is onder die MRK se aandag gebring.

Dié rioolprobleem word deels veroorsaak deur ’n beskadigde mangat langs die Kalahari-winkelsentrum waar riool uit die mangat in die spruit langs die winkelsentrum vloei, en van daar in die Oranjerivier beland.

Die herplante en geverfde paaltjies rondom die park in Upington.

Die tesourie het reeds R260 miljoen beskikbaar gestel sodat hierdie kwessie met ’n vier-fase-plan opgelos word. Hoewel die eerste en tweede fases voltooi is, vloei riool steeds uit die mangate waar die nuwe pypleiding aangebring is.

Die organisasie het ook in Junie die park op die hoek van Borcherd- en Rondomstraat in Upington skoongemaak, en omgeryde paaltjies herstel. Die ongeveer 160 paaltjies om die park is met ’n heldergeel geverf wat snags weerkaats as ligte daarop skyn.

Boonop het die Upington-tak einde Mei ’n eerste kamera wat nommerplate deur kruisverwysing herken, opgerig as opgerig as deel van ’n doelwit om Upington en die hoofroetes veiliger te hou.

“Dit is van kardinale belang om Upington en die gemeenskap met ’n kamerastelsel soos dié te beveilig,” sê Strauss.

Hy moedig gemeenskapslede aan om by soortgelyke inisiatiewe en projekte betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.